EntertainmentLifestyleLocal newsNewsNews

Groot titels vir Vaal se fraaie Zané

Dié oulike blondekopie, wat op 19 Mei vanjaar 7 word, sit haar uitsonderlike prestasies vanjaar voort.

VEREENIGING. – Soms is Zané Britz (6) ‘n gewone dogtertjie wat sonder sukkel kan verander in ‘n deftige prinses of koningin. Soms is sy Tinkerbell en ander kere ‘n danseressie of ‘n “veearts”. Maak nie saak in watter rol jy dié veelsydige meisietjie aantref nie: Sy is ‘n uitblinker in alles wat sy aanpak!

Zané het van ‘n baie jong ouderdom af ‘n passie om nuwe vaardighede aan te leer en ‘n wil om te presteer. Haar ouers, Paul en Jackie Britz van Vereeniging, moedig hul leergierige kind aan om alles waarin sy belangstel, te beproef. Sy het reeds op driejarige ouderdom met opleiding op verskillende terreine begin, soos ballet, drama en modelwerk.

Nadat Zané in 2020 uitmuntend by Talent Africa gevaar het (8 goue, 1 silwer- en 1 bronsmedalje) en nasionale kleure verwerf het, het sy deurgedring na Talent America, waarvan die aanlyn-beoordeling gedurende Desember 2020 wêreldwyd op Zoom gevolg kon word.

Die beoordelaars en toeskouers was sprakeloos oor dié fyn Suid-Afrikaanse meisie se optredes en sy is onder andere bekroon as Model Runway Casual (1ste plek), Photogenic Headshot (2de en 3de plek) en 1ste plekke in liriese dans en drama/poësie. Zané is ook aangewys as Female Top Model – Runway en algehele wenner in haar ouderdomsgroep. Sy het ook die gesogte Pinnacle Award ontvang en is boonop aangewys as ‘n finalis in die afdelings vir “Talent America Female Model of the Year” en “Entertainer of the Year” in haar ouderdomsgroep.

Dié oulike blondekopie, wat op 19 Mei vanjaar 7 word, sit haar uitsonderlike prestasies vanjaar voort. Sy het onlangs by die Stable Inn Conference Centre in Springs met die top-titel as Supreme Queen Royal Beauty weggestap en het diamant-plasings in al die kompetisie-afdelings verwerf. Sy is ook die wenner in die afdeling: Jewel of SA en is as eerste prinses aangewys in die afdelings Global Beauty en National Beauty, en tweede prinses in Ultimate Beauty. Bykomende titels wat sy hier ingeryg het, is Golden Queen (naaswenner) en Golden Queen Photogenic. Sy het ook toekennings ontvang vir haar welsyns- en debutantewerk.

Haar deelname aan Missy South Africa in Maart vanjaar het nét sulke uitstekende resultate opgelewer: Sy is aangewys as Algehele wenner in die afdeling: Openbare keuse, en ook algehele wenner in die Debutante-afdeling.

Zané se modelopleiding het by Chantenique Modelskool in Vereeniging begin, maar sy word nou deur Deon Walter Krauer aan die Rand afgerig.

Hoewel sy van girlie-goedjies hou, het Zané ook ‘n groot liefde vir diere en wil graag eendag ‘n veearts word. “Sy het ‘n baie sterk verbeelding en ons moet gereeld maak of ons beseerde diere is sodat sy ons kan ‘verpleeg’,” sê Ma Jackie. Zané het intussen haar eie perd gekry en word nou ook afgerig in skouspring.

Haar ouers maak haar eerstens as ‘n gewone, gebalanseerde dogtertjie groot, maar sê hulle sal haar ten volle ondersteun as sy haar modelloopbaan in later jare voluit wil najaag.

Dalk sien ons haar nog in later jare op die loopplank as ‘n Mej. Suid-Afrika of dalk selfs as Miss Universe!

 

 

 

 

 

 

 

*******************************************************************************************************************

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button