Na 130 jaar hou Vereeniging steeds jou hart gevange
"Eenmaal ‘n V-Towner, altyd ‘n V-Towner!"

Eenmaal ‘n V-Towner, altyd ‘n V-Towner. Só lui ‘n ou gesegde in Vereeniging. En dit is waar. Al woon jy nou in Kaapstad, Europa of Australië, ‘n deeltjie van dié plek sal altyd in jou hart bly lê.
Soos oud-inwoner Lourens Smith dit beskryf: “Ek is ‘n boytjie van V-Town. Ek werk al jare in Johannesburg en bly in ‘n ander dorp maar my wortels sal altyd in Vereeniging bly. Wie kan Solly’s of TV Take Aways vergeet? Of die Indian Plaza? Wat van die Bens Den en die Burger Box, of die jaarlikse Vaalskou en die beste kos by die Capri? Die hotrods of die Sondagaande se dice in Voortrekkerstraat…
“Dan ook die Riviera Hotel, die Royal Hotel en die ou National Hotel. Die Stasie bar… Club Rumours… die Tavern. Ek onthou nog die rugby tussen Vereeniging Hoër en Hoër Tegnies Vereeniging. Die rugby by Vereeniging Rugbyklub en die vele kuiers daarna. Die langarmdans by Singles of ‘n swierige dans in die stadsaal. FW de Klerk en Bles Bridges… die Odeon-fliek en die inry by Redan… die rooi bus met Boney M se musiek oor Kerstye. Oujaarsaande by Markpark. Skoolklere by Rautenbachs of ‘n mooi rok vir Ma by Judy’s Pride…”
Hiermee maak Lourens sommer ‘n hele paar verroeste herinneringe los. Baie van hierdie plekke en tradisies het al verdwyn of is oorgeneem deur dwelmsmouse en daklose straatslapers, maar Vereeniging se karakter is nog onmiskenbaar dáár, met 130 jaar se stories oor die goue én moeilike dae van die stad en sy mense.
Die verhaal van Vereeniging begin in 1878, die jaar toe geweldige steenkoolneerslae deur die geoloog George William Stowe in die omgewing ontdek is. Hierdie neerslae strek tot ongeveer 10 km noord van die stad en 32 km langs die Vaalrivier, en verskil in breedte van 6.4 tot 16 km. Sover bekend, kom die neerslae voor oor ‘n totale oppervlakte van 518 vierkante kilometer. Vereeniging het sy ontstaan dus te danke aan geoloog Stowe en aan Sammy Marks, die miljoenêrondernemer wat die ontdekking ekonomies lewensvatbaar gemaak het. Die dorp is amptelik in 1892 gestig en vernoem na die laaste woord in die oorspronklike eienaar se geregistreerde naam, die Zuid-Afrikaanse en Oranje Vrijstaatse Kolen en Mineralen Myn Vereeniging. Danksy die finansiële insette van Marks is steenkoolmyne in Vereeniging begin en die dorp se belangrikheid het toegeneem weens sy ligging op die grens van die destydse Transvaal. In die vroeë 1900s het Vereeniging ontwikkel as nywerheidsentrum vir steenkool, meulbedrywighede, teëlvervaardiging en algemene boerdery. Die oprigting van die groot kragsentrale van die Victoria and Transvaal Power Company in 1909 is gevolg deur die opening van die eerste groot staalfabriek in Suid-Afrika in 1913, naamlik die Unie-staalkorporasie. Dit was die begin van Vereeniging as ‘n sentrum van swaarnywerhede.
Baie van die stad se eens spognywerhede het intussen gesluit of drasties afgeskaal en die kragstasie is ook al dekades gelede tot niet gemaak, maar V-Town bied nog baie!
VEREENIGING IS VANJAAR 130 JAAR OUD. HIERDIE BERIG WAS DEEL VAN ‘N SPESIALE HERDENKINGSBYLAAG WAT GEREELD MAANDELIKS IN VAALWEEKBLAD SE PAPIERKOERANT VERSKYN. AS JY WEET VAN INTERESSANTE NUUS OF HUMORISTIESE GEBEURE UIT VEREENIGING SE GESKIEDENIS, STUUR ASSEBLIEF ‘N SMS OF WHATSAPP AAN RETHA FITCHAT BY 083 246 0523. ONS SAL DIT GRAAG INSLUIT IN DIE VOLGENDE HERDENKINGSBLAAIE.
Onder: ‘n Poskaart uit Vereeniging se blomjare wat deur die stad se bemarkingsafdeling uitgegee is, met ‘n paar van die netjiese geboue en swierige munisipale tuine, sowel as die Vaalrivier – ‘n plesierige toeriste-trekpleister.

*****************************************************************************

