‘n Bietjie van dié… en baie van ‘dice’
Die lewensgevaarlike praktyk, waar manne met warmgemaakte motors mekaar in Vereeniging uitgedaag het om te 'dice', was ‘n gewilde Sondagsport vir baie.
Vereeniging vier vanjaar sy 130ste bestaansjaar. Ons dink vanjaar weer terug aan die goeie ou dae…. Wie onthou nog hierdie?
Die Vaaldriehoek het in die 1960 en 70’s ‘n invloei van duisende jong manne gehad wat by plaaslike nywerhede kom werk het. Ongelukkig was daar maar min opwinding in die gebied vir ouens met adrenalien in hul are. Hulle moes self vir aksiebelaaide pret sorg – en dit het hulle gedoen met Sondagaande se “dices” tussen Vereeniging en Vanderbijlpark.
Dié lewensgevaarlike praktyk, waar manne met warmgemaakte motors mekaar uitgedaag het, was ‘n gewilde Sondagsport vir baie.
Die manne en hul motors het teen skemer op die hoek van Voortrekkerstraat en Lewislaan bymekaargekom en twee-twee op die Barragepad in die rigting van Vanderbijlpark weggetrek as die verkeerslig groen slaan.
Daar was dan ‘n gebrul van enjins en ‘n geskreeu van bande terwyl hul meisies of vroue naelskouend langs die pad gewag het om te sien wie wen.
‘n Toeskouersport was dit beslis! Honderde belangstellendes het in rye motors langs die Barragepad gesit of langs hul braairoosters vol vleis gestaan en kyk hoe die doodsveragtende “renjaers” by hulle verbyflits.
Enigeen met ‘n vinnige motor kon die wenner uitdaag vir ‘n “dice”, en so het dit soms ure geduur voordat die finale wenner van die aand aangewys is.
Renault Gordini’s was destyds die gewildste en warmste van die warm karre, maar daar was ook verskeie ander – soos Holden Monaro’s, Capri 3-liters, Ford V8’s en later Mazda MX6’e.
Bekende manne uit daardie jare wat kon raad gee oor hoe om jou kar deeglik op te warm, was oom Chris Els, Chummy van Eeden, Basil van Rooyen, Alex Myers, Piet Venter en Tienie en Noelie Els (oom Chris se seuns). Moet ook nie vergeet van Vaalpiet Fourie nie. Hy kon glo behoorlik met ‘n kar se enjin toor! (Let wel, nie al hierdie manne was by die “Sondag-dices” betrokke nie. Oom Chris het byvoorbeeld “stock-karre” by die renbaan gery en nie by die straatrenne nie, laat weet Isabel Ackerman).
Die Sondagaand-“dices” het die arme verkeersmanne van Vereeniging grys hare gegee. Daar was eenvoudig te veel vinnige voertuie om ingehaal en beboet te word. ‘n Woordvoerder van die jaers, David Parodi, het voorgestel dat die munisipaliteit ‘n regte renbaan vir die manne moes bou waar hulle veiliger teen mekaar kon meeding. Só ‘n teerbaan is toe jare later op die ou Vaalskou-terrein gebou en word steeds deur manne en vroue met ‘n liefde vir spoed benut.
Hoewel die Sondagaand-jaagtogte uiteindelik gestop het, het dit nog tot diep in die 1990s voortgegaan.

Foto bo: Riëtte McKenzie onthou nog dié 1972 Chev wat Voortrekkerstraat in die ou dae platgejaag het.

Foto bo: Gawie Scheepers se warmgemaakte 1200 Datsun het ook Sondagaande sy staal gewys.


Foto Bo: Johan Hattingh het dié V6 Ford se wiele Sondagaande laat tol.

Foto bo: Ben Spies se Mazda MX6 was ook ‘n waardige mededinger op Sondagaande.

Nog een van die blitsige mededingers uit die ou jare.


*******************************************************************************************************
