EntertainmentLifestyleLocal newsNewsSport

Plaaslike ryskool lewer talle kampioene op

"Deo Volenté Ryskool is baie trots op al ons ruiters wat aan die nasionale kampioenskappe deelgeneem het,” sê Riana Pretorius, eienaar en instrukteur van die ryskool.

Ruiters van Deo Volenté Ryskool in Vanderbijlpark was onlangs onder die 170 deelnemers aan die SA Boerperd Nasionale Kampioenskappe, waar hulle uitstekend gevaar het.

Die kampioenskappe is vanaf 27 Junie tot 2 Julie by die Afridome in Parys gehou. Die Afridome beskik oor ‘n wêreldgehalte binnenshuise arena, wat ook buite bane het.

Verskeie dissiplines is tydens die Nasionale Kampioenskap aangebied en die Vanderbijlparkse ruiters het behoorlik gesprankel! Anja Lubbe, slegs 8 jaar oud, het op die rug van Lang Carel Baron die nasionale titels van Kampioenruiter (onder 11) en Kampioenryperd (vir ruiters onder 11) beklink. Sy en Miah Barnard (op Aandag Ferguson) het ook elkeen ‘n plek in die 40cm-skouspring verwerf.

In die ander ouderdomskampioenskappe het Deo Volenté se ruiters ook uitstekend gevaar. Emma Loubser en Aandag Ace het in die vyfde plek in die o.15-ruiterklas geëindig en was ook reserwekampioen in haar dresseer-afdeling. Haar stalmaat, Lara Lubbe en Meer en Meer Kanniedood het derde geëindig in hierdie afdeling. Abigail Pienaar en Aandag Aerosmith het ook as reserwekampioen in hul dresseervlak geëindig.

In die o.19 Westerse ryperdkampioenskap was Sonja van der Shyff en Lang Carel Baron die reserwekampioen. Sy en Lang Carel Wikkel was ook vierde in die onder 19-ryperdkampioenskap. Haar stalmaat, Chloe Robinson en Calista Generaal, was vyfde.

Deo Volenté het ook goed gevaar in die o.19-ruiterkampioenskap: Chloe Robinson en Calista Generaal was reserwekampioen, Alissa Brink en Hoefstraal Zita was vierde en Sonja van der Schyff en Lang Carel Wikkel vyfde. Alissa en Lang Carel Wikkel het ook weggestap met die titel as Kampioen Vyfgang Ruiter in die kunsruiter-afdeling.

Johan Pienaar en Hoefstraal Kompas het ook besonder goed geplaas deur ‘n vyfde plek te behaal in die Groot Kampioenskap vir perde onder ses jaar.

In die skouspringafdeling het die ruiters ook hulle staal gewys en die volgende plekke behaal:

60cm: 1ste Chloe Robinson en Burgerstrots Gedenk.

70cm: 1ste Johan Pienaar en Aandag Binnebaan.

2de Nicola Oberholzer en Wenners Candy.

80cm: 1ste Johan Pienaar en Aandag Binnebaan.

90cm: 1ste Chloe Robinson en Calista Generaal.

3de Marnise van Staden en Hoefstraal Vimba.

1m: 2de Chloe Robinson en Calista Generaal.

4de Marnise van Staden en Hoefstraal Vimba.

In die Werkende jagperd-60cm was Nicola Oberholzer en Wenners Candy vyfde en in die 80cm was Marnise van Staden en Hoefstraal Vimba 2de.

In die Groot Kampioen Veelsydige Ryperd het die ryskool omtrént uitgeblink deur drie ruiters in die elite vyf te hê:

Reserwekampioen was Riana Pretorius en Calista Generaal, Chloe Robinson en Burgerstrots Gedenk was derde, en Marnise van Staden en Hoefstraal Vimba vyfde.

In die Universele Groot Kampioen Enkeltuig Elite Vyf was Riana Pretorius en Hoefstraal Kasjet derde, Johan Pienaar en Aandag Binnebaan vierde en Temike Mey en Aandag Bospols vyfde.

“Die SA Boerperd is een van die grootste inheemse perderasse in Suid-Afrika. Hierdie trots Suid-Afrikaanse ras bewys homself as moderne sportperd op verskeie gebiede.

“Deo Volenté Ryskool is baie trots op al ons ruiters wat aan die nasionale kampioenskappe deelgeneem het,” sê Riana Pretorius, eienaar en instrukteur van die ryskool.

 

Die 8-jarige Anja Lubbe op die rug van Lang Carel Baron nadat hulle die nasionale titels van Kampioenruiter onder 11 en Kampioenryperd vir ruiter onder 11 gewen het. By hulle is die trotse eienaar en afrigter van Deo Volenté Ryskool, Riana Pretorius.

 

Riana Pretorius en Hoefstraal Kasjet het derde geëindig in die afdeling: Universele Groot Kampioen Enkeltuig, Elite Vyf. Foto’s: Denford Studios.

 

Marnise van Staden en Hoefstraal Vimba in aksie tydens die nasionale kampioenskappe.
Johan Pienaar en Nicola Oberholzer tydens die 70 cm prysuitdeling.

********************************************************************************************

Back to top button