Oom Chris en sy Ryperd het kom afsaal in die Vaal
“Die groot man met die klein dingetjie” het die hele Suid-Afrika en selfs die buiteland bekoor!
VEREENIGING IS VANJAAR 130 JAAR OUD. OM DIT TE VIER, KYK VAALWEEKBLAD TERUG NA DIE INTERESSANTE MENSE WAT DEEL VAN DIE STAD SE GESKIEDENIS GEWORD HET. DIE SANGER CHRIS BLIGNAUT WAS EEN VAN HULLE…..
Ou Ryperd, ons ry die pad tesame
Ou Ryperd, so deur die lewensbane
Wanneer jou rydag verby is,
Gaan jou ou lyf lekker rus.
Hei, ou Ryperd van my…
Min Afrikaanse musiekliefhebbers ken nie die woorde van dié stokou liedjie nie. Toe Dozi dit in onlangse jare heropgeneem het, het dit dadelik groot aanklank by die jong geslag gevind. Maar vandag se storie gaan oor Oom Chris Blignaut wat die eerste Afrikaanse weergawe van die liedjie reeds in die 1930’s gewild gemaak het.
Dis ons eietydse hartevanger-sanger Manie Jackson wat dit onlangs onder Vaalweekblad se aandag gebring het dat Oom Chris Blignaut, wat in ‘n stadium die bekendste musikant in Suid-Afrika was, eintlik ‘n inwoner van Vereeniging was en presies 48 jaar gelede hier in die hospitaal gesterf het.
Manie doen graag navorsing en bewaar soveel inligting as moontlik oor plaaslike sangers se geskiedenis. So 12 jaar gelede het hy Oom Chris se kleindogter ontmoet en die voorreg gehad om ure lank oor haar bekende oupa te gesels.
Oom Chris, of Christian August Blignaut, is op 27 April 1897 as jongste van 11 kinders in Johannesburg gebore. Sy pa het 27 dae voor sy geboorte aan ‘n hartaanval gesterf. Chris het sy liefde vir musiek by sy ma gekry, wat die serfyntjie (‘n traporreltjie) bespeel het, en het reeds as jong seun geld met sy stem begin verdien. Hy het in Johannesburg skoolgegaan en in 1919 met Maude Pienaar getrou. Die egpaar het twee kinders gehad van wie een later ‘n bekende tandarts in Vereeniging geword het.
In 1923 wen Chris ‘n talentkompetisie wat uit die Stuttafordsgebou uitgesaai is. Vele ander pryse en toekennings het gevolg. Hy was die eerste Afrikaanse sanger wie se musiek oor die radio gespeel is en in 1931 ook die eerste Afrikaanse sanger om in ‘n rolprent te speel.
In 1935 vertrek hy na Engeland waar hy saam met rou Engelse musikante opnames maak soos Hannetjie Verjaar en Ou Ryperd.
Met sy terugkeer na Suid-Afrika was hy waarskynlik die bekendste en gewildste sanger in die land. Van sy eerste drie plate wat vrygestel is, het 82 000 eksemplare binne net drie maande verkoop. Teen die 1940’s was hy die eerste Afrikaanse sanger wat ‘n miljoen albums verkoop het.
Hy het nie net kitaar gespeel nie maar ook die ukelele, ‘n klein snaarinstrumentjie, wat hom grappenderwys die beskrywing as “die groot man met die klein dingetjie” besorg het. Oom Chris was byna 2 meter lank en groot gebou.
In 1949 besluit hy om sy sangloopbaan met ‘n reeks “aftreetoere” deur Suid-Afrika, die destydse Suidwes-Afrika en Rhodesië af te sluit, waar hy oral vol sale gelok het. In 1955 tree hy ook af as bestuurder by ‘n versekeringsmaatskappy vir wie hy sy lewe lank gewerk het. Nou kon hy ‘n rustige oudag geniet in sy gerieflike gesinshuis in Geumstraat, Arconpark… maar Oom Chris Blignaut het nie die koms van langspeelplate voorsien nie. Nadat Trutone hom genader het om vir hulle langspeelplate te maak, neem hy feitlik jaarliks een langspeler op, waarvan meeste van die liedjies deur homself gekomponeer is. En so het dit gegaan totdat ‘n hartaanval op Sondag, 21 Julie 1974 sy lewe in die Vereeniging-hospitaal geëis het. Hy was 77 jaar oud.
Hoewel sy oorspronklike musiek net op 78-spoed plate beskikbaar was, is dit vandag op CD en ook op moderne digitale platforms soos YouTube en Spotify te kry, waar ons weer met genot na sy groot treffers soos Ou Ryperd, Die Donkie, Ou Tante Koba, en Trein na Pretoria kan luister.


*************************************************************
