Vol program by die ERT – iets vir almal
Daar is 'n vol program by die ERT in Sasolburg vir Augustus en September

SASOLBURG. – Die Etienne Rousseau Teater in Sasolburg bied ‘n verskeidenheid van top produksies aan in Augustus en September.
Die verskeidenheid van genres en temas wat aangespreek word bied iets vir almal. Op 27 Augustus is Carli Olivier se Spanish Dance Productions op die verhoog met hul vertoning Alegria.
Dit beloof om weer ‘n skouspel van formaat te wees met kleurryke rokke en polsende Spaanse musiek. Die vertoning begin om 18:00 en kaartjies beloop R150 per persoon.

Op 8 September is daar ‘n eenmalige optrede van die Universiteitskoor Stellenbosch.
Hierdie koor is wêreldbekend en elkeen van hul optredes is van die hoogste gehalte.
Die uitvoering begin om 18:30 en kaartjies beloop R200 per persoon.
Vir diegene wat uigehonger is vir toneelstukke is daar Plesier-engel deur Leon van Nierop met Ruan Wessels in die titelrol.

Plesier-engels word as volg beskryf: “Die verhoogstuk, ‘n samevatting van drie boeke, is op die waarheid gebaseer (sekere name, ook Tristan Hansen s’n, is verander), en is sodanig aangepas dat dit nie bloot ‘n erotiese vertelling met ‘n aaneenskakeling van nodelose sekstonele te word nie, maar ‘n ondersoek na eensaamheid, weerloosheid, desperaatheid, behoeftes en die reuse- en onverwagse wendings wat Tristan Hansen se verhaal geneem het.
“Dit lewer ook sosiale kommentaar op veral die Afrikaner se benadering tot die seksuele. Die skok-element is in Hansen se innerlike landskap en sy emosionele ervarings geleë – nie noodwendig die eksplisiete nie, alhoewel daar wel erotiese tonele is.
“Die oorgrote meerderheid gebeure is nie-seksueel van aard en handel oor verwerping, minderwaardigheid, eksploitasie, emosionele verwaarlosing en veral onderdrukking, wanpersepsies en veroordeling.
“Hierdie stuk is ‘n eerlike ondersoek na wat werklik met Hansen gebeur het en hoekom dit gebeur het.”
Die drama word op 11 September om 14:00 opgevoer. Kaartjies beloop R150 per persoon. Let daarop dat geen persone onder 16 toegelaat word nie.
Alle vertonings se kaartjies kan by www.ertickets.com bespreek word.
