EntertainmentLifestyleNews

Dewald Gouws mik vir nuwe horisonne met nuutste enkelsnit

Dit is Dewald se missie om vir mense die ligter, liefdevoller kant van Geestelike musiek te wys

Dewald Gouws, een van Suid-Afrika se voorste Gospel-sangers, mik na nuwe horisonne met sy nuutste enkelsnit, Die Evangelie. Met besprekings vir sy optredes wat reeds tot in 2023 strek, is dit duidelik dat Dewald daarop uit is om met mening sy plek in die Afrikaanse Gospel-mark te vestig.

Dit is Dewald se missie om vir mense die ligter, liefdevoller kant van Geestelike musiek te wys: “Ek het baie keer in my lewe beleef dat prediking soms ‘n wanpersepsie by individue kan agterlaat en hul selfs kan laat struikel,” meen die 47-jarige sanger wat reeds meer as 5 albums die lig laat sien het.

In sy nuutste enkelsnit, Die Evangelie, wat pas vrygestel is, snoer hy kragte saam met die immergewilde kletsrymer, Hemelbesem. Alhoewel dit vir talle aanhangers ‘n verrassing mag wees om hierdie twee uiteenlopende musiekstyle te sien hande vat, beloof Gouws dat dit verseker horisonne en uitkyke van luisteraars sal verbreed. “Ons wil met hierdie lied die luisteraars herinner dat die boodskap van die Evangelie ‘n liefdesboodskap is en nie ‘n boodskap wat vrees bring nie: Jou tekortkominge diskwalifiseer jou nie van die liefde van God nie…” vertel Gouws met groot opgewondenheid oor sy nuwe materiaal.

Sy uitgangspunt met hierdie produksie was om eenheid te bring tussen verskillende kulture en daarom ook die verrassende bydrae deur Hemelbesem, wat daarvan spreek dat ons almal saam kan staan waar daar liefde en genade ter sprake is.

Gouws is tans besiger as ooit tevore en sy dankbaarheid vir die musiekindustrie wat steeds herstel na Covid-19 se greep is onbeskryflik groot, “Dit is verrassend om te sien hoe ontvanklik die mense vir hierdie boodskap is.”

 

*************************************************************************************************

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button