Jonathan verower die wêreld se hoogste berge een vir een
‘n Stapper van Midvaal is besig om sy droom om die wêreld se hoogste berge bergpiek vir bergpiek te tem, te verwesenlik.
MEYERTON. – Jonathan Newman, ‘n 34-jarige geoktrooieerde rekenmeester wat by BSi Steel in Midvaal werk, het in November teruggekeer van ‘n drie week lange reis deur die Himalajaberge in Asië waar hy die fabelagtige Drie Passe-staproete (Three Passes Trek) in die omgewing van Mount Everest (die hoogste berg op aarde) aangedurf het.
Jonathan se reis het op 9 November begin en hy het op 29 November teruggekeer.
Jonathan vertel dat hy in 12 dae se tyd 220km deur Nepal se berge en dale afgelê het. Hy het tydens die staptog ook vyf verskillende bergpieke hoër as 5 000 meter bo seevlak uitgeklim en vier verskillende basiskampe – insluitend die legendariese Everest-basiskamp – besoek.
Tydens die staptog het hy ‘n asembenemende 14.8km geklim en 13.8km gedaal. Die hoogste punt wat hy tydens die staptog bereik het was 5 650 meter bo seevlak (die piek van Everest is ongeveer 8 848 meter).
Die grootste uitdaging is volgens Jonathan die hoogte bo seëvlak en lae suurstofvlakke wat dit moeilik maak om asem te kry. Jonathan vertel dat hy tydens die stapgog gereeld vir homself gekletsrym (rap) het om seker te maak dat hy nog okei is.
Hoewel Jonathan se reis ongeveer drie weke geduur het, het die reis na Nepal en terug na Suid-Afrika baie van die dae in beslag geneem. Jonathan se staptog het by die dorp Kharikhola, ongeveer 2 000 meter bo seevlak, begin en by Lukla, ‘n dorpie in die Nepalese berge geëindig.

Hy het ook die basiskampe van Ama Dablam, Everest, Machapuchare en Annapurna besoek en die bergpieke van Nangkartshang (5 087 meter bo seevlak), Chuckhung Ri (5 550m), Kala Patthar (5 646m), Gokyo Ri (5 473m) en ‘n ander berpiek tussen die basiskamp van Ama Dablam en die eerste kamp van die berg (5 001m) uitgestap.
Hy het die reis op sy eie – sonder ’n gids – afgelê en het daagliks met bagasie van ongeveer 15kg gestap.
Die swaarste gedeelte van sy bagasie was die slaapsakke wat hy moes saamkarwei.
Jonathan het gedurende sy staptog by sogenaamde “teehuise” in die berge oorgeslaap waar hy in die aande skuiling gevind het en aan plaaslike disse soos Dal Bhat, ’n tradisionele maaltyd wat hoofsaaklik uit lensies en rys bestaan – blootgestel is.
Volgens Jonathan is die mense baie vriendelik en is misdaad nie so algemeen as in Suid-Afrika nie.
Sy pad het genadiglik nie met gevaarlike diere soos sneeuluiperds gekruis nie, maar hy het wel ’n boue ontkoming gehad toe ‘n gedeelte van ’n gletser wat hy tydens sy staptog oorgesteek het ’n paar meter voor hom ingegee het.

‘n Gletser in die Himalajaberge. Foto: VerskafDie vlug vanaf die Tenzing-Hillary-lughawe by Lukla was ook senutergend.
Die lughawe teen ’n berghang in die Himalajaberge word as een van die wêreld se gevaarlikste lughawens beskou vanweë die onherbergsame terrein en weerstoestande wat baie vining kan verander. Vliegtuie styg daar teen ‘n -11 grade helling op.
Jonathan se ouers en die Meyerton-atletiekklub, waarvan hy ‘n lid is, was by tye rasend van bekommernis toe hy in ’n stadium geen selfoonopvangs gehad het om te laat weet dat hy veilig is nie, maar hy het darem die avontuur oorleef.
Jonathan glo die mens het ’n interne aantrekking na hoë bergpieke.
Hy sê hy droom al van kinderdae af om van die wêreld se hoogste berge te klim.

“Dit (my fassinasie met die berge) was nog altyd daar. Toe ek 12 jaar oud was het ’n onderwyser een keer vir my in die klas gevra wat ek die naweek gedoen het. Ek het gesê dat ek ‘n dokumentêre program oor Kilimanjaro (die hoogste berg op die vasteland van Afrika) gekyk het bygevoeg dat ek die berg voor die jaar 2030 wil klim.”
Jonathan onthou hoe die hele klas destyds uitgebars het van die lag het omdat hy in daardie stadium nie baie goed met sport was nie.
Jonathan het toe wel in 2015 Kilimanjaro getem.
In 2018 het hy op ‘n ‘n vier week lange reis gegaan waartydens hy in Mauritius, Singapoer, Maleisië en Borneo gestap het.
Jonathan sê hy stap al sedert 2009 jaarliks in die Drakensberge.
Daar is min gedeeltes van dié asemrowende bergreeks wat hy nog nie verken het nie. Jonathan meen Suid-Afrika is geseën met van die wêreld se beste stapplekke.
“Die pryse is bekostigbaar, staproetes is toeganklik en die roetes is nooit baie besig nie. As jy vir vier of vyf dae in die Drakensberge gaan stap sien dikwels niemand anders nie,” vertel hy.
Jonathan droom daarvan om eendag die wêreld se tweede hoogste berg, K2 (8 611m) in die Karakoram-bergreeks in Pakistan te gaan besoek. Hy wil graag tot by die basiskamp stap.




