GAUTENG – Inwoners kla weer oor ’n onaangename reuk wat beskryf word as soortgelyk aan “katpiepie”.
Vaalweekblad-lesers van regoor die Vaaldriehoek het laat weet dat die reuk Sondagoggend (4 Oktober) besonder sterk was.
Soortgelyke klagtes het vroeër vanjaar uit die Vaaldriehoek en ander dele van Gauteng gekom.
Die Sedibeng-distriksmunisipaliteit het in ’n verklaring op 17 Februarie bevestig dat die departement van bosbou, visserye en die omgewing die saak ondersoek.
Die reuk is destyds as ’n geval van besoedeling wat oor munisipale grense strek, beskryf.
Dit is nog nie bevestig of die jongste klagtes met dieselfde bron verband hou nie.
Inwoners kan die reuk by die departement van bosbou, visserye en omgewing se 24-uur-omgewingsklagtelyn by 0800 205 005 of envirocrime@dffe.gov.za aanmeld.
Verskaf jou ligging, die datum en tyd waarop jy die reuk waargeneem het, en hoe lank dit aangehou het.
Vra ook vir ’n verwysingsnommer.