Beweerde koperdiewe naby R59 in Vaalpark vasgetrek
Inwoners wat kriminele aktiwiteite opmerk, word versoek om dit aan te meld by Crime Stop by 08600 10111, of hul naaste polisiestasie te kontak.
SASOLBURG – Lede van die Sasolburg-snelwegpatrollie het twee Lesotho-burgers (albei 41 jaar oud), in hegtenis geneem vir die beskadiging van noodsaaklike infrastruktuur, die oortreding van immigrasiewette en die besit van toerusting vir die gebruik vir inbrake.
Die geïntegreerde magte van #OperasieShanela II (bestaande uit die Sasolburg-snelwegpatrollie, lede van die sigbare polisiëringseenheid van naburige polisiestasies in die Fezile Dabi-distrik, en private sekuriteitsmaatskappye) het Donderdag inligting ontvang oor twee mans wat glo besig was om ‘n koperkabel langs die R59-pad naby Vaalpark uit te grawe.

Met hul aankoms op die toneel, was niemand meer daar nie.
Die geïntegreerde span het uit sig gewag, en teen omstreeks 23:00 het die twee mans teruggekeer en voortgegaan om die kabel uit te grawe.
Albei is in hegtenis geneem en kon geen vorm van identifikasie toon nie.
Die oortreders sal na verwagting die week in die Sasolburg-landdroshof verskyn op aanklagte van die beskadiging, vernietiging en ontwrigting van noodsaaklike infrastruktuur.