Bok-Volla laat harte groen en goud klop
Vir Louis van Niekerk is sy unieke 1974-Volla veel meer as net 'n motor.
MEYERTON – Wanneer die Springbokke vir Suid-Afrika uitdraf, bring ’n afgetrede staalwerker van Riversdal sy eie impakspeler nader aan die aksie: ’n 52 jaar oue Volkswagen Beetle met horings, vlae en ’n Wêreldbeker op sy enjinkap.
Dié Bok-Volla het nie ’n stem nie, maar wanneer hy langs die besige Jim Fouchéweg in Meyerton staan, hoef hy ook nie een te hê nie.
Met sy groen-en-goud geverfde bakwerk, Springbokhorings, wapperende landsvlae en ’n Wêreldbeker wat trots op die enjinkap pryk, vertel die 1974 Volkswagen Beetle presies aan verbygangers vir watter span sy eienaar skree.

Agter die stuur sit Ludwig August Rudolf Krause van Niekerk, hoewel feitlik almal hom bloot Louis noem.
“Wanneer die Springbokke in groen en goud op die veld draf, verenig dit Suid-Afrikaners,” sê die 60-jarige afgetrede staalwerker.
Louis, wat in Estcourt in KwaZulu-Natal gebore is, het 43 jaar lank by ArcelorMittal se staalfabriek in Newcastle gewerk.
Hy het in Julie 2023 afgetree en in Desember 2024 na Big Creek Retirement Village in Riversdal verhuis.

Hy het die destyds blou Beetle in 2005 vir R10 000 by ’n private verkoper in Newcastle gekoop. Die voertuig was toe nog in ’n redelike goeie toestand.
As lewenslange rugbyondersteuner het Louis altyd sowat vier Springbokvlae in sy erf gehys wanneer die Bokke gespeel het. In 2006 het hy egter besluit om sy ondersteuning ’n rat verder te neem en die Beetle in ’n Bok-Volla te omskep.
Sonder enige hulp of vorige verfervaring het hy die projek alleen aangepak. Die omskepping het sowat twee maande geduur en hom destyds ongeveer R2 000 gekos.
Die horings was ’n geskenk van ’n vriend, terwyl hy die Wêreldbeker by ’n veiling in Newcastle gekoop het.
“Die beker het vir my ’n spesiale betekenis. Dit wys vir mense dat die beker huis toe kom,” sê hy.

Die Bok-Volla het oor die jare ook twee matriekafskeide meegemaak, wat onder Louis se kosbaarste herinneringe tel. Deesdae parkeer hy die motor gereeld in Meyerton en langs Jim Fouchéweg om rugbygees onder inwoners aan te wakker. Verbygangers stop dikwels om die buitengewone motor te bewonder en foto’s daarvan te neem.
“Die Bok-Volla is nie net ’n motor nie. Hy vergestalt my liefde vir die Springbokke en my liefde vir Suid-Afrika,” sê Louis.
