News

Vaal se fraaie Florika help ander om te blom

Sy is bestem om die kollig te steel.

VANDERBIJLPARK – Vir Florika Viljoen is die Mev. Suid Afrika-kompetisie veel meer as ‘n skoonheidskompetisie.

Vir haar is dit ‘n platform om ander te inspireer, vroue te bemagtig en te bewys dat groot drome nie bepaal word deur waar jy vandaan kom nie.

Die 42-jarige hoofbestuurder van Eduvos se Vaal-kampus het reeds die Top 30 en halfeindronde van die 2026-kompetisie gehaal.

Florika Viljoen

Die voorlopige beoordeling vind op 12 November plaas, gevolg deur die Grand Finale op 13 November.

Hoewel sy vandag ander bemagtig, sê Florika haar eie sukses is gebou op die mense wat vroeg reeds in haar geglo het. “My ouers het my van kleins af geleer om deur te druk en nooit op te gee nie. My man, Adrian, sien ook altyd meer in my raak as wat ek self sien. Sy vertroue help my om meer in myself te glo,” sê sy.

Min mense weet dat Florika op 15-jarige ouderdom SA-kleure in Taekwondo verwerf en ‘n silwermedalje by die All Africa Games gewen het. Sy sê dié sport het haar dissipline, deursettingsvermoë en respek geleer.

Vir Florika gaan leierskap oor die invloed wat ‘n mens op ander het. “’n Kollega het onlangs vertel hoe ek haar inspireer om ‘n beter leier te wees, en my niggie se dogtertjie het ‘n skoolprojek oor my gedoen omdat sy eendag soos tannie Florika wil wees. Dit herinner my dat jy altyd ‘n goeie voorbeeld moet wees.”

Die verlies van geliefdes op ‘n jong ouderdom het haar ook geleer wat werklik saak maak. “Mense is belangriker as prestasie.

 Die manier waarop jy mense laat voel, maak die grootste verskil.” Soos baie vroue het sy jare lank met selftwyfel geworstel. “Ek het myself dikwels afgevra of ek goed genoeg is. Die Mrs South Africa-platform het my gehelp om meer in myself te glo.”

 Vir haar is geloof die anker wat haar deur moeilike tye dra. “Dit het my geleer om te vertrou, beheer oor te gee en deur uitdagings te groei.” Wanneer sy oor haar seun, Aidan, praat, sê sy sy hoop hy sal haar onthou vir die waardes wat sy aan hom oorgedra het. “Ek wil hê hy moet weet ek het altyd in hom geglo en hom geleer om in homself te glo.” Florika sê haar definisie van sukses het verander.

“Vandag meet ek sukses aan die impak wat ek op mense se lewens het en die nalatenskap wat ek agterlaat.” As verteenwoordiger van die Vaaldriehoek hoop sy haar reis sal ander inspireer. “Ek hoop mense sien dat iemand uit die Vaal ook ‘n nasionale platform kan gebruik om ander te bemagtig.” Vir haar lê die ware oorwinning nie in ‘n kroon nie.

 “As selfs een vrou of jong dame deur my reis geïnspireer is om meer in haarself te glo en haar drome na te jaag, dan het ek reeds gewen. Die ware prys is die impak wat ek maak.” Terwyl sy voorberei vir November se eindronde, sê Florika die kompetisie het haar nie verander nie. “Hierdie reis het my geleer dat ek sterker en moediger is as wat ek ooit gedink het.

 “Ek hoef nie perfek te wees om ‘n verskil te maak nie. Mrs South Africa help my om die beste weergawe van Florika Viljoen te ontdek.” *Die publiek kan ook vir haar per SMS stem deur die sleutelwoorde: Florika Viljoen na 47587 te stuur.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Ettienne van Rensburg

Ettienne van Rensburg is an acclaimed journalist with a legacy of award winning work. He is the Editor of Ster South and Sports Editor of Vaalweekblad. Email: ettienne@mooivaal.co.za
Back to top button