Skarebefondsing vir ernstig beseerde Dane ná skoolbusongeluk
Haar familie is in die inwoners van die Vaaldriehoek se gebede.
SASOLBURG. ’n Skarebefondsingsveldtog is op BackaBuddy begin om die familie van die 10-jarige Dane Greyling by te staan nadat sy ernstig in Donderdag se noodlottige skoolbusongeluk op die R57 by die R59-brug naby Sasolburg beseer is.
Dane is per helikopter na ’n hospitaal in Alberton vervoer, waar sy volgens die veldtog in intensiewe sorg is.
Die beskrywing op BackaBuddy meld dat Dane in ’n medies-geïnduseerde koma geplaas is. Sy het onder meer ’n gebreekte rug, gebreekte ribbes en ’n gebreekte linkerbeen opgedoen. Volgens die veldtog het sy ook breinbeserings opgedoen en kan sy nog nie selfstandig asemhaal nie.
’n Operasie aan haar ruggraat is volgens die veldtog vir 9 of 10 Oktober beplan.
Die skarebefondsingsveldtog is deur Lorelise Myburgh, met ’n teikenbedrag van R150 000, begin om die Greyling-familie in dié moeilike tyd te ondersteun.
Teen die tyd dat die veldtog nagegaan is, het 116 skenkers altesaam R62 996 bygedra.
Die ongeluk het Donderdag, 8 Oktober plaasgevind. Die skooldirekteur en drie leerders is dood, terwyl verskeie ander leerders beseer is.
Mense wat Dane en haar familie finansieel wil bystaan, kan tot die skarebefondsingsveldtog bydra deur die volgende skakel te besoek:
