Hierdie is nie ‘n boek vir sommer net optel en vinnig deurlees nie. Dit vra vir bietjie-bietjie op ‘n slag, sodat mens eers dit wat jy gelees het kan verwerk.
Dis ‘n verhaal van uiterstes. Die gegoede buurt teenoor die plakkerskamp. Die geweldenaar teenoor die weldoener. Dit ontsluit vir ‘n oomblik ‘n deur tussen twee wêrelde oop. Die gegoede kant waar alles as vanselfsprekend aanvaar word. Waar dit normaal is om kos in die kaste te hê, elektrisiteit, spoel toilette en warm water in die huis. Waar gesinne nog uit ‘n pa en ma en kinders bestaan. Teenoor die sinkplaatgehuggies waar die dakke lek, die koue deur murg en been sny, kos ‘n skaars voorreg is en mense buite moet toustaan vir die gedeelde toilet en om water by die enigste kraan te tap. Waar ouma of ousus na kleintjies moet omsien, want ma en pa is aan Vigs verwante siektes oorlede.
In een vreesaanjaende nag verander Riandi Opperman se hele lewe, wanneer sy bllindelings van haar geweldadige man die donkerte invlug en in ‘n ander wêreld wakker word. ‘n Wêreld wat sy eers glad nie verstaan nie, maar waarvan sy noodgedwonge deel word en waar sy na binne en buite uiteindelik weer genesing en haarself vind.
Naomi Maree raak in Genoeg is Genoeg vele van Suid-Afrika se kwelpunte op een slag aan, van geweldsmisdaad teen vroue tot by armoede en die Vigs-epidemie wat soveel kinders haweloos, siek en wees agterlaat.
Die boek trek jou uit jou gemaksone, maar sus tog so ‘n bietjie met ‘n goedvoel einde. Tog, die beelde wat die skrywer met die boek in jou gedagtes kom huisves het, bly happer in mens se binneste. Juis omdat dit meer waarheid as fiksie bevat. Juis omdat mens weet hierdie jaar is dit nog erger, want hierdie jaar het nog ‘n virus bygekom wat mense se lewens nog moeiliker maak.
Vir meer inligting gaan na die facebook blad, Naomi Maree Skryfster. Boeke kan ook daar via messenger bestel word.