Dokkies troef Overvaal met 214 lopies
’n Vyftigtal vir Jacques Nel en ’n 100ste wedstryd vir Damian du Plessis het die oorwinning nog soeter gemaak.
MEYERTON. – Hoërskool Dr. Malan se eerste krieketspan het Saterdag ’n oortuigende oorwinning van 214 lopies oor Hoërskool Overvaal in die Vaaldriehoek-krieketliga behaal, met Heinrich Jansen van Rensburg wat vyf paaltjies ingeoes het.
Die Dokkies het 295/9 in hul toegelate 50 boulbeurte aangeteken voordat hulle Overvaal vir net 81 lopies in 22.4 boulbeurte uitgeknikker het.
Jacques Nel het met die kolf uitgeblink en 50 lopies van 84 balle aangeteken. Adriaan Greyling het 37 van 35 balle bygedra, terwyl AJ Els ’n vinnige 36 van 30 balle gemoker het.
Jansen van Rensburg het vyf paaltjies vir 17 lopies geneem. Jayden le Roux het drie paaltjies vir 27 lopies geneem, terwyl Aldo Kotze ’n paaltjie geneem het sonder om ’n lopie af te staan.
Jacques Oosthuizen was Overvaal se voorste lopiemaker met 27 van 50 balle, gevolg deur Vaughn van Vuuren met 16 van 29 balle.

Die wedstryd was ook ’n besondere geleentheid vir Damian du Plessis, wat sy 100ste wedstryd vir die Dokkies gespeel het.
Die skool het in ’n Facebook-plasing die spelers en afrigtingspan gelukgewens en die oorwinning aan talent, deursettingsvermoë, spanwerk en Dokkie-gees toegeskryf.
Die Dokkies se tweede span het ook uitgeblink en Hoërskool Die Anker op 14 Oktober met 144 lopies geklop.
Quaid le Roux het ’n blitsige 58 lopies van net 29 balle aangeteken, terwyl Aron Ambachtsheer 43 van 20 balle gemoker het. Devan du Plessis het met ’n onoorwonne 20 van 12 balle bygedra.
Juan Retief was die voorste bouler met vier paaltjies vir 25 lopies. JJ Kruger het twee vir drie geneem en Johan du Toit twee vir nege.

