
Tussen die drie van hulle het hulle jare se ondervinding in die spel en het hulle keer op keer al nasionale kleure in ringtennis verwerf.
Michelle sê sy het groot geword met ringtennis aangesien albei haar ouers gespeel het. Breyton (14) skakel eers sy Ouma Nel om te hoor presies wanneer hulle begin speel het. Ouma Nel onthou Michelle het begin speel toe sy 8 jaar oud was, maar wanneer sy self begin het, dit weet sy nou nie meer nie. Dis toe dat mens Oupa Nel se stem in die agtergrond hoor. “Ek het al gespeel toe ons getroud is.”
Dit was 1970. “Maak sin”, sê Michelle, “Sedibeng Klub het in 2019 hul 50ste bestaan gevier.” Haar familie was dus van amper uit die staanpoor deel van ringtennis in die Vaaldriehoek. Sy self speel al meer as 30 jaar en onthou nog die dae wat almal by Cecil Oldrigde Park bymekaargekom het. Later jare het hul na die destydse Iscor Klub verskuif wat nou bekend is as die Quest Conference Centre. Hier kom die klub Dinsdae en Donderdae aande bymekaar om te oefen en elke derde Saterdag word daar klubtoernooie gespeel. (Dis hoe dit was voor die inperking. Die klub het nog nie sekerheid oor wanneer hul weer gaan begin oefen nie.)
Die sport is duidelik ‘n gesamentlike passie vir dié gesin en die joernalis moet byhou om notas te maak van die feite wat uit drie verskillende rigtings op haar neerdaal. “Dis ‘n gesinsport vir alle ouderdomme,” sê Brendon. “Dis vet pret!” verklaar Breyton. Michelle stem saam dat ringtennis baie sosiaal is en dat daar veral by klub kampioenskappe lekker geskerts word op en van die baan. Na ‘n toernooi word daar ook gewoonlik saam gekuier.
“Sodra ons weer begin, kan mense gerus kom kyk en ‘n paar ringe saam gooi. Jy hoef nie dadelik kompeterend te speel of amptelik by die klub aan te sluit nie. Jy het geen spesiale toerusting nodig nie. Die klub het ringe, nette en afrigters. Ons kan selfs help met die klubgelde as jy nie kan bekostig nie,” gee Michelle ‘n ope uitnodiging aan haar mede-Vaalies.
As jy ernstig oor die sport is, kan jy vir ‘n klubspan gekies word wat die ander klubs in Suid-Afrika, onder andere Gauteng Noord, Gauteng Sentraal en Limpopo die stryd aansê. Elke jaar word daar dan ook ‘n Springbokspan en ‘n uitnodigingspan gekies wat op die hoogste vlak meeding. Elke vier jaar is daar ‘n wêreldbekertoernooi. Dan word daar ‘n volledige Proteaspan gekies wat Suid-Afrika verteenwoordig. In 2018 was Brendon en Michelle deel van die SA span wat aan die Wêreld Ringtennis Kampioenskappe in Belarus deelgeneem het.
Indien jy lus voel om ‘n ring op te neem of net meer inligting oor die sport wil bekom, gaan loer gerus op die facebook page saringtennis.
