NewsNews

Vonnis vir polisielede wat kollega vals beskuldig van k-woord

Moontlike tronkstraf staar twee lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) vandag (19 Junie) in die gesig nadat hulle ’n kollega valslik beskuldig het dat sy die k-woord gebruik het.

Twee adjudant-offisiere van die SAPD, Sedisa Tikoe en Chris Mphana, is deur die Noordwes-streekhof in Stilfontein aan verskeie kriminele klagte skuldig bevind, insluitende crimen injuria, regsverydeling, meineed en aanranding.

Die twee het luitenant-kolonel Annemarie Oosthuizen valslik daarvan beskuldig dat sy die k-woord gebruik het en het haar met geweld gedreig. Die vals beskuldigings het gevolg nadat Oosthuizen met ’n dissiplinêre proses teen hulle begin het nadat hulle sonder toestemming of verlof nie by die werk opgedaag het nie.

Solidariteit, wat Oosthuizen deur die hele proses ondersteun het, het die skuldigbevinding verwelkom. “Vals beskuldigings dat die k-woord gebruik is, word al meer gebruik as wapen om dissiplinêre optrede te vermy. Alhoewel dit nie beperk is tot die SAPD nie, is daar verskeie soortgelyke sake in die SAPD. Die arbeidshowe beskou ʼn vals klag van rassisme opsigself as rassisme en onbillike diskriminasie. Die strafhowe sien dit as ʼn kriminele oortreding en jy kan tronk toe gaan daarvoor,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

’n Voormalige intern, me. Elizabeth Sechele, het gehoor hoe Tikoe en Mphana beplan het om Oosthuizen valslik daarvan te beskuldig dat sy die k-woord gebruik het. Sechele het in die hof getuig dat sy self ’n ma is en nie kon toelaat dat Oosthuizen onregmatig haar werk verloor nie. Sy sê haar pa het haar aangemoedig om die regte ding te doen.

“Die groot held in hierdie saak is Elizabeth Sechele. Sy het gewys dat geregtigheid nie kleur ken nie. Sy het standpunt ingeneem vir die waarheid ten spyte van intimidasie,” sê Hermann.

Vonnisoplegging in die kriminele saak wat meer as drie jaar geduur het, sal uiteindelik vandag in Stilfontein plaasvind.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button