NewsNews

Die Klas van 2020 is anders

VANDERBIJLPARK. – Jou matriekjaar is ‘n besonderse jaar. Dis die jaar van harde werk en baie eksamens, maar ook die jaar wat jy vir oulaas vir jou skool op akademiese, kulturele en sportgebied kan presteer.

Dié jaar is egter heel anders. Die Klas van 2020 is deur die koronavirus van al die dinge wat deur die jare as vanselfsprekend aanvaar is, ontneem.

Vaalweekblad het by een van die dorp se matrikulante, Jan-Albert Erasmus, gaan hoor hoe hy 2020 tot dusver ervaar.

“Skool is nou baie anders. Almal dra maskers en die skoolure is nou langer. Ons begin om 07:25 en maak om 15:15 klaar. Die reël is dat jy so vinnig as moontlik in die oggend moet aanmeld en weer net so vinnig die skoolterrein in die middag moet verlaat. Ons volg ‘n ses-dag rooster en in sekere klasse wissel die onderwysers en nie die kinders nie. Afrikaans en Engels word nou in die groot laboratoriumklasse aangebied, sodat ons ons afstand ver genoeg kan hou. ‘n Mens moet heeltyd jou hande skoonmaak en die tafel afvee,” verduidelik hy en voeg dan met ‘n glimlag by, “dis eintlik lekker om die enigste kinders by die skool te wees.”

Dan slaan daar tog teleurstelling deur. “Ons matriekafskeid is gekanselleer. Al die prysuitdelings ook.” Hy sug. “Ek kry die leiers en die sportpresteerders jammer. Dit moet vir hulle baie erg wees.”

Jan-Albert is ‘n trotse leerling van Hoërskool Driehoek waar hy ook deel van die klankspan is. “Akademies gaan dit goed. Ons is al amper deur die jaar se wiskunde en dan gaan ons net hersiening doen. Ek het goeie onderwysers. Hulle het ‘n passie vir die onderwys. Daar is mejuffroue Scheuer, Strydom, mnr. Kruger en mnr. Jacobs…” rits hy die name af van die mense waarvoor hy duidelik groot respek het. Hy het self met sy skoolwerk op Wolkskool voortgegaan. Hy wil volgende jaar vir ‘n B.Sc.-graad in die rekenaarwetenskappe aan die Noordwes-Universiteit gaan studeer.

“Ek het al voorlopige keuring gekry. Eintlik wil ek my meestersgraad en doktoraal ook in rekenaarprogrammering doen. Daarna wil ek graag vir ‘n groot maatskappy soos Apple Inc gaan werk.

“Ek wil daardie groen plaatjies in ‘n rekenaar gaan bou en ontwerp,” probeer hy vir dié tegnologies-gestremde joernalis verduidelik. Naas rekenaars, geniet hy dit ook om in die kombuis te woel en te werkskaf. Sy ma, Litha-Mari, het hom en sy jonger broer, Johann, leer kook. “Dit loop in die familie,” vertel sy. Verlede jaar se KykNET Kokkedoor, Pasch du Plooy, is my neef.” Jan-Albert skud net sy kop as sy ma hom herinner dat hy voorheen al ‘n rekord gebreek  het en in die Vaalweekblad verskyn het. Dit was toe hy met sy geboorte op 20 Maart 2002 die swaarste baba was wat in daardie stadium by die destydse Medivaal Hospitaal (Mediclinic Emfuleni) gebore is. ‘n Hele 5kg! Vandag troon hy met sy 1.94m ver bokant die res van sy gesin uit en trap sy nommer 17 skoolskoene diep spore. Die jongeling is aktief saam met sy pa, Johan, by Vaalrivier-gemeente se aanbiddingspan betrokke. Albei sy ouers is musikaal, maar hoewel hy mooi kan sing, weier hy om dit in die openbaar te doen. Jy sal hom altyd agter die klankbord of agter ‘n kameralens vind. Wanneer die akademie dit toelaat, eksperimenteer hy met natuurfotografie.

Oor die res van die matriekjaar is hy rustig. “Onthou tuisonderrig was nie vir ons snaaks nie. Ons moes dit verlede jaar vir hoe lank doen,” verklaar hy en skielik kom lê die onthou van die brug-tragedie tussen ons. Hy frons. “Ek was in die saal, besig om die klank op te ruim toe ons die slag hoor. Ek het gedink dit was weer van die seuns wat “crackers” in die badkamer skiet. Toe sien ek net die hoof gryp sy kop vas en begin hardloop. Die eerste rugbyspan se seuns het die houtdeure uit die muur gebreek om platforms vir die kinders te maak.” Hy raak stil.

“Die geluide wat ek daai dag gehoor het. ‘n Mens kan dit nie vergeet nie.” Dan glimlag hy weer. ‘n Gerusstellende glimlag, asof hy vir die ouer mense in die vertrek wil sê, “dis okay. Ons kan dit hanteer. Dit is nie so erg nie.” En ek wonder, miskien sal die klas van 2020 eendag kan sê: “Nee, daar was nie ‘n matriekafskeid, ‘n prysuitdeling of rugbytoere nie, maar ons het aangepas en aangegaan, gouer emosionele volwassenheid bereik, uitgegaan en die wêreld verander…”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gugulethu Kgongoane

Gugulethu Kgongoane is the Online Editor of Sedibeng Ster. Email: gugu@mooivaal.co.za She is also an online journalist of Vaalweekblad. Email: gugu@mooivaal.co.za
Back to top button