Hier kan jy vinnig en maklik alles van sement en hout tot gas, verf, elektriese benodigdhede, loodgieterstoerusting en algemene ysterware koop.
Nou breek daar ‘n nuwe hoofstuk in B&R Hardware se bestaan aan: Die onderneming trek binnekort na ‘n pragtige nuwe perseel op die hoek van Generaal Hertzog- en Blackwoodstraat, Drie Riviere, sowat vier kilometer vanaf hul bestaande gebou. Dié skuif is ‘n jarelange droom vir die eienaars, Piet en Martie Rossouw, en hul dogter, Adéle Brits, wat die onderneming saam met hulle bestuur.

Om die “Groot Trek” in die huidige staat van inperking aan te pak, verg deeglike beplanning en harde werk, maar Piet en sy gesin het baie vertroue in die Vaaldriehoekse ekonomie en weet hulle kan reken op die lojaliteit van hul jarelange kliënte, verskaffers en kontrakteurs. B&R Hardware bou nie verniet al jare aan sy uitstekende naam nie en is lankal bekend vir flink diens, uitstekende raad en persoonlike aandag aan elke kliënt. Hoewel Piet hom aanvanklik in ‘n elektriese rigting bekwaam het, het hy van jongs-af ‘n groot belangstelling in ysterware sowel as huis- en tuinverfraaiing.
In sy sakeonderneming kombineer hy sy passie hiervoor met nóg ‘n saak wat hom na aan die hart lê: Uitstekende kliëntediens. “Ons probeer baie hard om goeie diens te lewer en altyd voldoende voorraad beskikbaar te hê. Selfs al het ons nie ‘n spesifieke item waarna ‘n kliënt soek nie, doen ons moeite om dit vinnig in die hande te kry,” sê Piet.
Vir ‘n familie-onderneming om met groot DIY-groepe mee te ding, is nie altyd maklik nie, maar die voordeel van B&R Hardware lê juis in die kleiner aard en persoonlike diens wat hulle kan aanbied.
“Ons is in werklikheid ‘n ‘walk-in-walk-out’ onderneming waar jy vinnig geholpe raak en selfs net een skroefie kan koop as dit al is wat jy benodig,” sê hy. B&R Hardware kan kliënte ook bystaan met ‘n wye verskeidenheid tuinbenodigdhede sowel asbesproeiing.
“Ons bedank graag ons kliënte vir hul ondersteuning van die afgelope 14 jaar en sien baie daarna uit om julle by ons nuwe perseel te verwelkom,” nooi Piet.
* Die onderneming verhuis binne die volgende ses weke na die nuwe gebou op die hoek van Generaal Hertzog- en Blackwoodstraat, Drie Riviere. Skakel B&R Hardware by (016) 423 1246/7 vir meer inligting oor hul beskikbare dienste of produkte. Hou ook Ster en Vaalweekblad Facebook dop vir meer inligting oor hul verhuising en spesiale aanbiedinge wat op kliënte wag!
