NewsNews

Elektrisiteitskrisis is oorsaak van baie skade

VANDERBIJLPARK. - Te midde van die Covid-19 pandemie, beleef die Vaaldriehoek ook een van die koudste winters in jare. Die ekonomie lyk sleg. Mense het nie werk of kos nie. In Vanderbijlpark is daar boonop die ekstra probleem van ‘n gebrek aan elektrisiteit.

Die groterwordende krisis is in die omgewing van Bophelong en die nywerheidsgebied. Aan die een kant van die R57-hoofweg staan daar al vir jare meestal konstruksiebesighede met so hier en daar ‘n kosplek of ‘n algemene handelaar in die mengsel. Die besigheidseienaars in die gebied is moedeloos. “Die erfbelasting word net meer en meer. Hier word geen vullisverwydering meer gedoen nie. Almal gebruik al privaat mense om hul vullis te verwyder,” het een van die eienaars, wat anoniem wil bly, laat weet.

Oor die algemeen het die eienaars van fabrieke simpatie met die inwoners van Bophelong. “Wanneer hulle nie water het nie, gee ons vir hulle water. Ons sou hulle met elektrisiteit ook gehelp het as ons kon. Ons kyk na en gee om vir ons community…”

Alles is vertrap en verniel. Daar is meestal net kos gesteel.

Aan die ander kant van die pad lê Bophelong. Die kinders hardloop kaalvoet met kortbroeke en verflenterde truie oor die straat. Dis koud. Die elektrisiteit is al weer af.  “Die substasie kan nie die lading hanteer nie. Die substasie se versmelters (fuses) het geblaas.” Verskonings is daar legio, maar oplossings is min. Op Sondagaand, 14 Junie is van die besighede in die nywerheidsgebied geplunder. Winkelvensters is gebreek. Veiligheidsdeure afgebreek. Alarms uitgeruk. Motorbande is teen die geboue aan die brand gesteek. Die winkels binne is verwoes. Daar is soveel as moontlik kos weggedra. Winkels in Bophelong wat kos verkoop, is vermoedelik ook beroof. Die skade beloop ver oor die R500 000.  Die moeilikheid het die vorige week al begin. Op Maandag, 15 Junie het dit voortgeduur. Een van die besigheidseienaars het na 14:00 Maandagmiddag laat weet dat die meeste oproeriges kinders is.

“Watter  kans het hulle as die polisie met rubberkoeëls begin skiet om hul uitmekaar te hou?” het sy gevra. Moedeloos, want haar eie besighede het deurgeloop. Die skade was groot. Maar, dis kinders. Kinders wat sonder kos, water en elektrisiteit hierdie winter probeer oorleef. Wie se ouers tien teen een werk verloor het in die grendelstaat. Maak nie saak watter kant toe jy redeneer nie. Alkante toe gaan jy jou vasloop in onreg, onregverdigheid, skade en verlies.

Mike Brucher, ‘n afgetrede ingenieur en aktiewe lid van die Emfuleni Belastingbetalersvereniging (ERPA) met wie Vaalweekblad gesels het, het gesê die munisipaliteit kon al lankal plan gemaak het.

“Die substasie in Fairbankstraat is ‘n brandgevaar. Van die transformators is toegegroei, maar niemand word binne toegelaat om inspeksie te doen nie.”

Hy sê hulle het al foto’s oor die muur geneem en dat hulle aangebied het om die munisipaliteit te help, maar die aanbod om hulp is van die hand gewys. Intussen was al hoe meer gedeeltes in Vanderbijlpark en Vereeniging tydens die kouefront sonder krag. Teen Woensdag, 17 Junie was gedeeltes in die CE-, SW- en CW-gebiede in Vanderbijlpark en Drie Riviere sonder elektrisiteit. In ‘n persverklaring wat op 16 Junie uitgereik is, het die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit verklaar dat die substasie in Curie-boulevard te veel elektrisiteit ‘trek’. Hierdie oorlading het blykbaar verskeie van die paalgemonteerde transformators in die Bophelong uitbreidings beskadig.

Volgens die verklaring het die munisipaliteit se elektrisiteitsdepartement reeds agt van hierdie transformators teen ‘n koste van meer as R600 000 vervang. Daar moet nog vier in uitbreiding 2, 5, 17 en 18 vervang word.

Volgens die persverklaring kon tegnici nie uitgaan om ‘n fout in Bophelong uitbreidings 15 en 16 te ondersoek nie, omdat dit weens die onluste in die gebied onveilig sou wees. Ironies, aangesien die onluste juis aan die gang is omdat die inwoners reeds vir ‘n geruime tyd nie elektrisiteit het nie.

Die munisipaliteit het verder gewaarsku dat inwoners en besighede krag moet bespaar, anders sal die oorlading op die substasie verdere langdurige kragonderbrekings en beurtkrag tot gevolg hê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gugulethu Kgongoane

Gugulethu Kgongoane is the Online Editor of Sedibeng Ster. Email: gugu@mooivaal.co.za She is also an online journalist of Vaalweekblad. Email: gugu@mooivaal.co.za
Back to top button