Sy koerieronderneming fokus op die vervoer van troeteldiere. Meestal klein hondjies, maar heelwat “rescue” honde het ook al so hul nuwe huise gevind. Van die meer uitsonderlike dierepassasiers sluit in ‘n African Grey met die naam van Sweetie Pie en Rocco die marmot. Gaan loer gerus op die Facebookblad, Black Leash Couriers, om al die hartsteel dierefoto’s te sien.
Lennart het op skool al besluit hy gaan vir homself werk, en dis wat hy dan ook van net na matriek reggekry het. Vlak 5 van die grendelstaat het hom egter sonder ‘n inkomste gelaat. Die jongman het dadelik begin planne beraam om ‘n nuwe onderneming te begin. Lennart is baie lief vir diere en sê hulle het nog altyd honde in die huis gehad. Dit was juis dié honde wat hom laat dink het dat daar dalk ‘n behoefte in die mark kan wees om troeteldiere te vervoer. Tydens die inperkings mag mense mos nie oor die provinsiale grense ry nie, en selfs onder normale omstandighede, het mense nie noodwendig die tyd of die lus om ‘n lang pad met ‘n troeteldier aan te durf nie.

Net daar is Black Leash Couriers in Vanderbijlpark gebore. “My ouers en meisie het my baie gehelp met die proses vanaf besigheidsregistrasie tot en met die fynste detail van ‘n logo-ontwerp en ‘n advertensie maak,” vertel hy. Sy skoolvriend, Okkert Geldenhuys, was ook dadelik gewillig om betrokke te raak.
Lennart sê hulle kry oproepe van dwarsoor die land en het al selfs ‘n jong boerboel na sy nuwe eienaar in Lesotho geneem. Met die huidige inperkingsmaatreëls moet die span heelwat uitdagings oorbrug. Gelukkig is al hul permitte in plek.
Al spandeer hul nou baie ure op die pad, reken Lennart hulle is besig om ry fiks te raak. Hulle maak ook seker hulle kry genoeg slaap in voor ‘n rit en op die pad word daar elke 250 tot 300 km gestop. Dan kan mens en dier bietjie bene rek en kry die diere kos, water en aandag. “Ons monitor ook altyd die weersomstandighede om seker te maak dat die motor se klimaat gepas is vir die diere,” verduidelik hy.
Die dierepassasiers se eienaars word deurentyd op hoogte gehou van hoe ver hulle nog het om te ry, hoe dit met die diere gaan en dan word daar ook sommer foto’s geneem en aangestuur. Sodoende weet die eienaars hul troeteldiere is in goeie hande. Hy erken dat hulle baie vinnig lief word vir die diere terwyl hul so saam op reis is. Hy sê die lekkerste is om self die vreugde op kinders en volwassenes se gesigte te kan sien wanneer hul hul nuwe troeteldier ontmoet. “Een van die spesiaalste oomblikke is wanneer daar ‘n rescue hondjie met ‘n nuwe, goeie huis verenig word.”

Hy erken elke dag is nie ewe maklik nie. Om ‘n nuwe onderneming te begin en suksesvol aan die gang te hou, verg ongelooflike deursettingsvermoë en harde werk.
Sy raad aan ander jongmense wat groot droom is om in hulself te glo.
“Moet nooit dat mense se opinies jou droom of idee beïnvloed nie. Daar gaan dae kom wat jy wil opgee. Moenie opgee nie. My pa het my altyd gevra, as jy ‘n nuwe besigheid begin en jy kry die eerste maand net die helfte van jou salaris, of jy gewen of verloor het? As jy ‘verloor’ antwoord, verander jou denkwyse, jy is nog nie reg om jou eie besigheid te begin nie. Indien jy ‘wen’ antwoord, is jy op die regte pad. Positiwiteit en harde werk vat mens tot groter hoogtes. Onthou altyd, dit wat jy insit, is dit wat jy sal uitkry.”
