NewsNews
Sagmoedige onderwysreus sterf
VEREENIGING.- Die onderwys en gemeenskap in die Vaaldriehoek is armer nadat Johan Janse van Rensburg, voormalige skoolhoof van die Hoërskool Drie Riviere in Vereeniging, Vrydag 26 Junie oorlede is. Medelye van personeel en oud-leerlinge het op sosiale media ingestroom. Die Hoërskool Drie Riviere het op sy Facebookblad vir Janse van Rensburg met ‘n hartroerende skrywe …

VEREENIGING.- Die onderwys en gemeenskap in die Vaaldriehoek is armer nadat Johan Janse van Rensburg, voormalige skoolhoof van die Hoërskool Drie Riviere in Vereeniging, Vrydag 26 Junie oorlede is. Medelye van personeel en oud-leerlinge het op sosiale media ingestroom.
Die Hoërskool Drie Riviere het op sy Facebookblad vir Janse van Rensburg met ‘n hartroerende skrywe gegroet:
Dis met groot leedwese dat Drieries verneem het van die afsterwe van ‘n voormalige hoof, Meneer Johan Janse van Rensburg, op Vrydag, 26 Junie.
Sy reis in die Vaaldriehoek begin in 1995, toe hy as hoof aangestel is by Hoërskool Drie Riviere. Sy hart het vir die holistiese ontwikkeling van elke kind geklop. Hy was langs die sportveld, in die gehoor en werklik betrokke by alle skoolaktiwiteite.
Sy nalatenskap sluit in dubbelmediumklasse, die Faktotumhuis, die Teater (wat ook na hom vernoem is), sowel as die Hotelskool.

Op die gebied van kultuur trap hy diep spore deur betrokkenheid by die skryf van brosjures vir die ATKV debat- en redenaarskompetisies. Orkeste en kore neem CD’s op, danksy hom.
Hy word onthou as liefhebber van klassieke musiek en ywerige leser van onder andere oorloggeskiedenis. Sy algemene kennis was verstommend.
Mnr. van Rensburg sal onthou word vir sy gelykmatige geaardheid en deernis vir die behoeftes van jongmense. Sy woorde: “’n Drierie gee nie op nie en onttrek nie”, het baie kinders op liefdevolle wyse van deursettingsvermoë geleer. Sy deur was oop en hy het die woorde: “’n Sagte woord keer die grimmigheid af”, daagliks uitgeleef. Dié self-erkende Bloubul-ondersteuner en sy eggenoot, Erika, het die afgelope paar jaar in Pretoria gewoon, nadat sy ook afgetree het as onderwyseres by Laerskool Suikerbos.
Die skool en personeel betreur sy heengaan en spreek hul simpatie uit teenoor sy familie en vriende. – Dollie Ross en Lehandra Kotze.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
