NewsNews

‘Dubbel’ en dwars geseënd met talent

VANDERBIJLPARK. – Ansia en Liani du Plooy is onder hul vriende en familie bekend as Dié Tweeling ... vyf weke te vroeg gebore, maar hulle stuit vir niks.

Vir meer as 44 jaar trap hul al diep spore in almal wat hul pad kruis se harte. ‘n Mens kan nie anders as om van die twee te hou nie. Vriendelik. Geesdriftig. Lief vir die lewe. Ansia vertel die stories en Liani vul aan waar nodig.

In hul woonstel waar die son gesellig warm in die middae bak, vergeet mens maklik jou eie sorge terwyl jy na hul vertellings luister, tuisgebakte kolwyntjies eet en koffie drink. Tussen in pla die grys kat, Snowy ook genoem Bekkie, vir ‘n happie koek. Dis vrolik. Dis lekker.

Dit is eers wanneer Ansia vertel van die epileptiese aanvalle wat haar al ‘n paar maal in die hospitaal laat beland het, en Liani beduie hoe sy nie ‘n masker kan dra nie omdat sy asma het, dat die verlede die hede inhaal. Die tweeling is op 25 Maart 1976 gebore. Vyf weke te vroeg. Dit was dekades voor die moderne sonars en skanderings van vandag uitgevind is. Hul ma, Du Burette du Plooy, het die oggend nog komberse in die bad getrap, toe die kraampyne haar oorval het. Sy was nie eens bewus daarvan dat sy swanger is met ‘n tweeling nie. Liani was reeds gebore, toe die dokter aankondig daar is ‘n tweede baba op pad. Hul ousus, Litha-Mari Erasmus, onthou haar ma het vir haar pa Bert, so van die kraambed af lysies gemaak sodat hy die nodige kon aanskaf om twee babas in plaas van een te verwelkom.

Die vroeë geboorte het albei babas breingestremd gelaat. Nie dat dit die twee enigsins ondergekry het nie. Hulle het dieselfde jaar die eerste prys in ‘n babaskou gewen. Hul ma het hulle ook met hope geduld so onafhanklik en normaal moontlik grootgemaak. Ansia en Liani was in graad 3 (destyds st.1) toe ‘n skoolhoof gesê het die twee moet eerder Eureka Skool toe gaan. Du Burette het geweier en die twee was tot in graad 7 in die spesiale klas van ‘n gewone akademiese laerskool. Hul hoërskoolloopbaan het hul by die Anker Skool in Vanderbijlpark voltooi.

Die twee sussies kry nie eintlik kans vir stilsit nie, daar is altyd ‘n naaldwerkprojek of twee wat hul besig hou. Saam-saam vertel hulle hoe hul in 2007 oor hul gunsteling radiostasie, IFM 102.2, gehoor het van ‘n kleuterskool in Evaton wat op soek was na onder meer klimrame. Die storie het hul so aangegryp dat hulle 80 voorskote gemaak het. Hulle kan nie meer onthou wie die pastoor was wat hul daaroor gekontak het nie. Hulle onthou egter die kerkdiens wat hul bygewoon het en hoe hul op hul name vorentoe geroep is, waarna hulle die twee sakke met voorskote oorhandig het. Die pastoor het belowe om die voorskote namens hulle by die kleuterskool te gaan aflewer.

Meer onlangs het hulle vir Eureka Skool borslappe gemaak en op die oomblik is hulle besig om materiaal hoedjies te prakseer wat die leerlinge tydens kookklasse kan dra. Ansia hou van ontwerp en het al vir haarself hemde en voorskootrokke gemaak. Liani geniet dit om kombuisgoed en servetringe te maak. “Ek gebruik daardie wit swembadpype. Dan sny ek sulke 5cm ringe en verf die binnekante swart, trek dit met mooi materiaal oor en varnish dit,” verduidelik sy die proses. “Ek dink ek moet dit weer begin maak,” besluit sy dan.

Hulle hou ook daarvan om beskuit en muffins te bak. Ansia is lus om die woonstel te verf. Sy het reeds ‘n baie kleurvolle plan vir elke kamer in gedagte, maar hulle moet nou eers die hoedjies vir Eureka Skool voltooi. Hulle hoop die grendelstaat is teen Desember al heeltemal verby. Hulle gaan pas gewoonlik ‘n vriendin se huis in Helderkruin op as sy en haar man met vakansie gaan. Die vriendin het ‘n huis vol Yorkies en die sussies geniet dit om na hulle om te sien. By die aanhoor van die hoogverraad, spring Snowy, die grys kat, op die koffietafel en eet twee van die kolwyntjiepapiertjies op voordat enige iemand kan keer. “Is ons optelkat,” sê Ansia.

“Sy was maar ses weke oud toe ons haar gekry het,” onthou Liani. “Siestog, ons het haar laat regmaak nadat sy laasjaar mos so onverwags kleintjies gekry het. En sy is so klein,” voeg Liani by. “Ja, maar sy regeer die hele woonstelblok,” lag Ansia. Die gryse Snowy-Bekkie kat is voorwaar gelukkig om twee sulke aanneem ma’s te kon kry. Sou sy kon praat, sou sy saam met my stem. Die wêreld sou ‘n baie armer en valer plek gewees het sonder Dié Tweeling.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gugulethu Kgongoane

Gugulethu Kgongoane is the Online Editor of Sedibeng Ster. Email: gugu@mooivaal.co.za She is also an online journalist of Vaalweekblad. Email: gugu@mooivaal.co.za
Back to top button