NewsNews

Kleuterskool-saak Woensdag in die hof

Die saak van die Beroepsgilde vir Maatskaplike Werkers en die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) teen die departement van maatskaplike ontwikkeling oor die heropening van kleuterskole sal op Woensdag om 10:00 in die ope hof in Pretoria aangehoor word.

Die twee organisasies het hulle tot die hof gewend omdat die departement steeds geen duidelikheid gegee het oor wanneer privaat kleuterskole en dagsorgsentrums mag heropen nie; dit terwyl departementele kleuterskole reeds vanaf 6 Julie weer leerlinge mag ontvang.

“Kinders in privaat kleuterskole se skolastiese vordering gaan nou deur hierdie teenstrydighede van die departement van maatskaplike ontwikkeling en die departement van basiese onderwys negatief beïnvloed word. Deur die saak te bring, wil ons verhoed dat sulke agterstande veroorsaak word. Die departement moet ook besef dat hierdie kleuterskole en dagsorgsentrums, waarvan die kinders nou ontneem word, vir baie van hulle ʼn veilige hawe is, ʼn plek waar hulle kos kry en ʼn plek waar ouers hulle met ʼn geruste hart kan laat wanneer hulle terugkeer werk toe,” sê Marisa Engelbrecht, sektorhoof by Solidariteit se Beroepsgilde vir Maatskaplike Werkers.

Die beroepsgilde en die SOS is van mening dat kleuterskole en dagsorgsentrums ook veilig en gesond kan werk. Onderwysers moes almal aanlyn kursusse in Covid-19-gesondheidsprotokolle volg en het al die nodige praktiese veranderings aangebring en maatreëls ingestel soos wat die regulasies van skole vereis. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se hoofwetenskaplike is die kans dat kinders die virus sal oordra gering. Daar is dus geen rede waarom hierdie instellings nie kan heropen nie.

“Die dringendheid van die saak kan nie meer beklemtoon word nie,” sê Anton van der Bijl, hoof van arbeidsregsdienste by Solidariteit. “Personeel is terug by die werk maar steeds is daar geen sprake van datums waarop kinders mag terugkeer nie. Hierdie onderwysers verloor inkomste omdat hulle verhoed word om hul diens te lewer. Ons is gereed om hierdie sinnelose optrede van die departement ten volle teen te staan tydens Woensdag se hofsitting,” het Van der Bijl afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button