Vaal se bielieslot in Franse se visier
Ettienne van Rensburg VANDERBIJLPARK. – Hy rank 1.97m in sy sokkies en trap die skaal op ‘n stewige 105kg vas en wanneer sy nommer 13-tokse aanstaande jaar op Franse bodem vastrapplek kry, wil hy diep spore trap. Baie skoolseuns droom daaroor om beroepsrugby in Europa te speel, maar dit is nie vir almal beskore nie. …
Ettienne van Rensburg
VANDERBIJLPARK. – Hy rank 1.97m in sy sokkies en trap die skaal op ‘n stewige 105kg vas en wanneer sy nommer 13-tokse aanstaande jaar op Franse bodem vastrapplek kry, wil hy diep spore trap.
Baie skoolseuns droom daaroor om beroepsrugby in Europa te speel, maar dit is nie vir almal beskore nie.
Quintin Olivier, 18-jarige hemelbesem en kaptein van die Hoërskool Transvalia se eerste rugbyspan, is een van die uitverkorenes. Hy gaan hom eersdaags by ‘n uitgelese groep spelers aansluit.
Sy agent, Bart Schoeman, het onlangs vir hom ‘n tweejaarkontrak by Union Sportive Montalbanaise (USM) in Frankryk beding. USM speel tans in die Franse Tweede-liga. Volgens Olivier is hierdie die gulde geleentheid wat hy nie deur sy vingers kon laat glip nie.
“Ek is bietjie skrikkerig, maar ek is lief vir uitdagings en sien daarna uit meer as enigiets anders,” vertel hy.
Dit sal darem ook nie sy eerste proesel rugby in Frankryk wees nie. Hy het in 2018 saam met die Rugby Travel Barbarians se toergroep teen talle Franse klubs gespeel.

Wanneer jy 160kg kan bench press, 210kg squat en 220kg deadlift en boonop bo meeste van jou spanmaats uittroon, is dit net ‘n kwessie van tyd voordat jy raakgesien gaan word.
Hoewel hy tans op vierslot in die skrum sak, is hy ewe tuis in die nommer 7-trui. Dit is die posisie waarin hy glo sy toekomstige heil lê.
Hoewel die beseringspook hom verlede jaar bloots gery het en sy Cravenweekdroom laat ontspoor het, het dit hom gemotiveer om harder te werk.
Hy is ook vol lof vir Herman Venske, sy kondisioneringsafrigter by die Hoërskool Transvalia.
“Hy het my verlede jaar aan die gang gehou. Ons het al baie ure in my spel en kondisionering ingesit en sonder hom sou ek nie vandag gewees het waar ek is nie.”
Volgens dié bielieslot het Tiaan Valentine en Sean Erasmus as afrigters ook ‘n reuse-invloed op sy ontwikkeling as speler gehad.
Hoewel sy fisieke teenwoordigheid op die veld deesdae vrees by sy teenstanders inboesem, is hy eintlik ‘n sagmoedige reus.
“Ek was so 6 jaar oud toe ek bulletjie rugby begin speel het. Dit is eintlik ‘n snaakse storie. In my eerste wedstryd na my eerste duikslag het ek my teenstander om verskoning gaan vra,” skerts hy.
Deesdae is hy nie net ‘n nommer vir sy skool se span nie, hy is sommer kaptein ook. Oor sy kapteinskap en hoe sy spanmaats hom ervaar, is hy baie openlik en opreg.
“Ek het ‘n anderste en spesiale verhouding met elk van my mede-spelers, maar ek dink hulle sou sê ek gee nie op nie en ek is die eerste een in en laaste een uit.”
Hoewel sy rugbypaadjie vir eers met Suid-Afrika skei, beteken dit nie dat hy vir ewig vir ons reënboognasie verlore sal wees nie.
“Ek het in ‘n Bok-beduiwelde huis grootgeword. Ek glo as die geleentheid hom voordoen, sal ek nie twee keer dink om terug te kom SA toe nie,” sê hy.
