News

Virginia Lee-huldeblyk bring haar musiek huis toe

Plaaslike kunstenaars bring Virginia Lee se geliefde liedjies op 14 November terug na die verhoog.

MIDVAAL – Sommige liedjies is meer as net musiek. Dit neem ’n mens terug na ’n bepaalde tyd, plek of mense wat deel van jou lewe was en kan jare later steeds ’n glimlag, traan of gevoel van nostalgie wakker maak.

Dit is die hart agter die Virginia Lee Huldeblyk – Encore, wat op 14 November in die Vaaldriehoek aangebied word nadat die oorspronklike produksie besonder goed ontvang is.

Die produksie is geskep as ’n liefdevolle viering van Virginia Lee se musiek en nalatenskap, met respek vir die liedjies wat oor die jare deel van talle Suid-Afrikaners se herinneringe geword het.

Die Encore word gelei deur Yolandie, wat die produksie geskep en vervaardig het en ook as hoofsolis op die verhoog sal verskyn. Sy word bygestaan deur die solis Theonette Vogt, ’n vyfstukorkes en agtergrondsangers.

Saam bied hulle ’n volwaardige verhoogproduksie waarin musiek, stories, herinneringe en emosie bymekaar kom.

Omdat heelwat van die talent wat by die produksie betrokke is uit die Vaaldriehoek afkomstig is, is daar volgens die organiseerders ’n besondere gevoel van plaaslike trots aan die Encore verbonde.

“Hierdie keer word die vertoning huis toe gebring,” lui die mediaverklaring.

Die produksie wil ook die Vaaldriehoek se besondere gemeenskapsgees weerspieël.

Plaaslike kerke en gemeenskapsorganisasies sal met stalletjies en ander deelname betrek word.
Die doel is om rondom die vertoning ’n warm, eg Suid-Afrikaanse ervaring te skep waar mense kan saamkom, saamkuier en die aand as ’n gemeenskap kan beleef.

Die Encore gaan uiteindelik oor meer as net ’n verhoog. Dit is ’n viering van die musiek wat mense onthou, die mense wat dit verbind en herinneringe wat bly.

Die vertoning beloof om ’n aand te wees vir diegene wat Virginia Lee se musiek ken en liefhet – ’n geleentheid om saam te sing, saam te onthou en nuwe herinneringe te maak.

Die Virginia Lee Huldeblyk – Encore vind op 14 November om 18:00 by Klip River Country Estate in Drie Riviere plaas.

Kaartjies kos R150 per persoon. Besprekings kan per WhatsApp by 060 299 7652 gedoen word.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button