Plaasmoorde kan nie ontken word nie
Elke kruis teen die Ysterberg bevat 'n foto van die afgestorwene, 'n geboortedatum en die datum van afsterwe - sodoende kan die moorde nie ontken word nie.
Die leier van die VF Plus, dr. Corné Mulder, het gister die planting van 17 kruise vir plaasmoordslagoffers by die Witkruismonument teen die Ysterberg in Limpopo bygewoon en het die kruise formeel vir planting oorhandig.
Twee van die kruise was herplantings. Die ander 15 verteenwoordig moorde sedert 30 Junie verlede jaar tot 1 Augustus vanjaar.
Bewusmaking van plaasmoorde
Die monument, wat sowat 3 000 kruise bevat, dien as ‘n belangrike baken van bewusmaking rondom plaasmoorde. Dit bied ook aan naasbestaandes die geleentheid om finaal afskeid van hul geliefdes te neem.
“Dit is belangrik vir naasbestaandes om op hierdie manier te kan sien dat hulle nie alleen staan in hul uur van droefheid nie en help om berusting te bring. Dit is die minste wat mede-Suid-Afrikaners vir hulle kan doen,” se Dr. Mulder in ‘n mediaverklaring.
Die VF Plus sê hul voortgesette betrokkenheid by die monument ‘n opregte poging om medelye te betuig met die familie en vriende van die vermoordes.
“Elke kruis verteenwoordig nie net die hartseer en verskrikking van ‘n plaasmoord nie, maar dien ook as bewys aan die wêreld van die realiteit daarvan, én die ewe tragiese ontkenning van hierdie werklikheid deur die land se regering en president”.
“Solank as wat prominente politici soos Julius Malema liedere soos “Kill the Boer” sing, soos wyle Peter Mokaba voor hom, en dit swyend deur die regering goedgekeur word, sal die VF Plus nie aanvaar dat plaasmoorde toevallige misdaadverwante voorvalle is nie,” sê Dr. Mulder.

Moorde op vroue
Hy het verder klem daarop gelê dat Pres. Cyril Ramaphosa nou met die vlaag vermoedelik reeksmoorde op vroue aan die Oos-Rand, dadelik sy simpatie betuig het en dit as ‘n “nasionale krisis” bestempel het.
“Die VF Plus wil herhaal dit is reg en goed so. Dit is die regte optrede. Die party sal net wil sien dat die president op dieselfde wyse plaasmoorde erken, dit kritiseer en prioriteit daaraan gee. Dit ontken hy egter voor die wêreld,” sluit Dr. Mulder af.
