Broodnodige uitreik vir Redan-inwoners
VEREENIGING. - Die Vaaldriehoek gaan net soos die res van die land gebuk onder die harde houe wat deur Covid-19 uitgedeel word. Daar is veral ‘n paar gemeenskappe wat tans swaar trek, waarvan Redan (so tussen Vereeniging en Meyerton) tel, waar die term “broodnodig” letterlik van toepassing is.
Die VF Plus Midvaal het saam met verskeie organisasies, waarvan die Boeregemeenskap Transvaal een van die groot rolspelers was, gewerk om verligting te bring aan inwoners van Redan.
In ‘n spesiale uitreik die afgelope Sondag is daar na elke behoeftige gesin omgesien deur skenkers – dit het alles van ‘n lekker warm “hotdog” tot kos, klere en selfs rolskaatse vir die kinders ingesluit.
“Ek wil graag uit die diepte van my hart vir elkeen dankie sê wat ń bydrae gelewer het en sodoende tot die sukses van die belangrike uitreik bygedra het,” het Kobus Hoffman LPW vir die VF Plus in Gauteng na afloop van die uitreik gesê.
“Dit is weer eens ‘n bewys dat wanneer ons almal hande vat ons bo sal uitkom,” het hy afgesluit.
Die inwoners was verheug oor die hulp wat hulle ontvang het.
“Ons is bevoorreg om die groot skenking te kon ontvang. Ek help reeds met die uitdeel van kospakkies wat elke week aan 108 huishoudings uitgedeel word,” sê woordvoerder vir die gemeenskap Susan Naudé. In sommige van die huise woon daar meer as een gesin.
“Die behoefte vir hulp is groot. Ek is absoluut afhanklik van hulp vanuit die geneemskap om kos laan hierdie huishoudings te kan voorsien. Soms is dit baie moeilik om kos aan almal te voorsien,” sê Susan.
* Indien daar enige inwoners of besighede is wat voel hulle wil ‘n bydrae tot Susan se voedingskema maak, kan sy by 072 744 8109 gekontak word.

