Kragonderbreking ontwrig Rand Water se pompstasies – wateronderbrekings moontlik
Daar is weer krag, maar Randwater waarsku dat inwoners nog vir ure lank lae waterdruk of wateronderbrekings kan ervaar.
Inwoners in dele van Gauteng en Noordwes kan ‘n verlaging in waterdruk of volledige wateronderbrekings ervaar nadat ’n kragonderbreking by twee van Rand Water se pompstasies Maandagoggend waterpompbedrywighede ontwrig het.
Rand Water sê die kragonderbreking by die Zuikerbosch- en Lethabo-pompstasies, wat deur Eskom van elektrisiteit voorsien word, het omstreeks 09:45 Maandag plaasgevind.
Die kragtoevoer is omstreeks 11:20 herstel en pompbedrywighede het hervat.
Volgens Rand Water beteken die herstel van die kragtoevoer egter nie dat watervoorsiening onmiddellik na normaal terugkeer nie. Die geaffekteerde watersisteme benodig na raming nog vier uur om volledig te herstel.
Die onderbreking het die Palmiet-, Eikenhof-, Zwartkopjes- en Vereeniging–Vanderbijlpark–Sasolburg-stelsels (VVS) geraak.
Inwoners in die stede Johannesburg, Ekurhuleni en Tshwane, asook dele van Mogale City (Kagiso), Rand West, Merafong, Rustenburg, Madibeng, Thembisile Hani, Emfuleni, Metsimaholo en Ngwathe, kan geraak word. Die Royal Bafokeng-administrasie kan ook geraak word.
Verskeie nywerhede, myne en ander direkte Rand Water-klante kan eweneens onderbrekings ervaar.
Rand Water sê hy monitor die herstel van die stelsels en werk daaraan om normale bedrywighede so gou moontlik te herstel.
