Local newsNewsNews

Ligte-leesstof: As die nood druk…

Die een groot probleem wat ek met feeste en die groot bymekaarkom van mense het, is die tydelike gehuggies wat opgesit word vir wanneer die nood druk. En die nood druk mos gereeld, want dit is mos warm en soos wat dit warm word, word die dors meer. Vat my gewoonlik ‘n hele paar koffies en koeldrank om genoeg moed bymekaar te skraap om die gehuggies te besoek.

En dan is dit nou eers wonder of iemand binne is, al dan nie, want die deure is toe en daar is nie ‘n ‘beset’ liggie nie.
Kry jy wel die affêre oop, dan moet jy nou mooi trap, net vir ingeval die plasties vir liggewigte gemaak is en jy dalk skeef trap of gattrap en inval. Lang mense het dadelik ‘n verdere probleem met die sitslag, want dié trone is mos maar half laag op die aarde.
Om te bepaal presies hoe die gedoente gespoel moet word, vat geduld en deursettingsvermoë. Nie twee maatskappye se gehuggies is dieselfde nie. Party trap jy onder, ander het ‘n groter rathefboom bo, maar so word die nood darem verlig.
Behalwe as die son sak en die feesorganiseerders het nie daaraan gedink om die behoefteplekkies onder spreiligte te plaas nie.
Soos by die Varkfees onlangs, toe sien ek die duisternis het op die gehuggies toegesak en ons werk laat. Ten einde laas, toe verklaar ek my nood aan myse Ouboet-neef en sy kollega. Hulle verstaan toe nie my dilemma nie. “Wat as daar ‘n slang in die bak is?” protesteer ek benoud, maar my oë begin water… “Hier is nie slange nie,” verseker hulle my. Ek is nie oortuig nie. “Loop saam,” kommandeer ek en vergeet amper om asseblief te sê. Ek het gemeen albei moet saamstap vir my beskerming, maar hulle reken toe Jacques moet maar die tent en Fords oppas. So karring Ouboet saam. Hy stop aan die onderkant van die trappe wat na die tydelike verligting lei. “Nou toe,” sê hy “ek wag”.
Braaf betree ek die ry plastiese gevaartes. Voor ek die deur oopmaak, sit ek eers my foon se flitslig aan. Loer na binne om te kyk vir slange en ook hoe nat die vloer is. Presies hoe die res van die reis na verligting verloop het, kan ek weens ‘n goeie opvoeding nie uitbrei nie. Maar dis klein daar binne. En dit was moeilik…
Toe ek eindelaas my verskyning maak, verwag ek Ouboet gaan verlig wees om my ongeskonde en veilig daar te sien. Maar nee, die staan en lag hom ‘n papie omdat ek eers die flits aangesit het en die hokkie besigtig het voordat ek ingegaan het. Mans verstaan ook niks!

Vaalweekblad se Gerda Bruinette.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button