Local newsNewsNewsBreaking News

Koning van die atletiekbaan

VEREENIGING. – ’n 17-jarige langasem van Vereeniging Gimnasium beklee tans die nommer een posisies in die land vir beide die 1 500m en 3 000m baanitems vir seuns o.18. Die 17-jarige Jason Bowers is ’n gr. 11-leerling aan Gimmies. Volgens sy afrigter, Johan Britz, beteken dit dat Jason in die 2020 atletiekjaar die beste tye …

VEREENIGING. – ’n 17-jarige langasem van Vereeniging Gimnasium beklee tans die nommer een posisies in die land vir beide die 1 500m en 3 000m baanitems vir seuns o.18.

Die 17-jarige Jason Bowers is ’n gr. 11-leerling aan Gimmies.

Volgens sy afrigter, Johan Britz, beteken dit dat Jason in die 2020 atletiekjaar die beste tye in Suid-Afrika opgestel het in beide die 1 500m en 3 000m in sy ouderdomsgroep.

Johan verduidelik: “Sy tyd van 8:23 vir die 3 000m is verkeerdelik op Atletiek Suid-Afrika (ASA) se ranglys van senior mans geplaas, in plaas van seuns o.18. Sy tyd is in der waarheid 18 sekonders vinniger as die tweede plek wat tans gelys word.”

Jason spog ook met ’n indrukwekkende persoonlike beste tyd van 3:52 in die 1 500m.

Jason, wat in Rust-ter-Vaal grootgeword het en alleen deur sy ma Ester Bowers grootgemaak is, glo dat daar geen plaasvervanger vir harde werk is nie.

Volgens afrigter Johan doen Jason egter nie uitermatige hoë kilometers per week nie.

“Ons glo eerder aan kwaliteit as kwantiteit en oefen ’n maksimum van 80km per week vir die landloopseisoen,” vertel Johan.

Jason het op 14-jarige ouderdom, ná die atletiekseisoen by Johan, ’n bekroonde afrigter wat al talle van Suid-Afrika se topatlete afgerig het, begin oefen. Daarna het sy atletiekloopbaan van krag tot krag gegaan.

“Toe hy by my aangesluit het was hy reeds ‘n uitstekende provinsiale laerskool-landloopatleet met ‘n beste posisie van 21ste by die Suid-Afrikaanse kampioenskappe.

“Ná vier maande het hy tweede by die Suid-Afrikaanse skolebyeenkoms en tweede by ASA se Suid-Afrikaanse kampioenskappe geëindig,” sê Johan.

Jason kyk op na atlete soos die Britse langasem Mo Farrah en droom daarvan om eendag aan die Olimpiese Spele deel te neem.

Hy wil graag aan die 2024 Olimpiese Spele in Parys in die 5 000m deelneem.

Jason is ’n veelsydige atleet wat veral die laaste twee jaar in verskeie middelafstand- en langafstand-baanitems sy merk op die atletiekbaan gemaak het.

Wêreldatletiek se rekords toon dat Jason op 12 Februarie 2019 ’n amptelike persoonlike beste tyd van 1:54.02 vir die 800m-baanitem opgestel het in Potchefstroom.

In dieselfde jaar het hy ook persoonlike beste tye (wat deur Wêreld Atletiek erken word) vir die 1 500m (3:58.37 in Pretoria op 2 Maart) en 10 km (31:00 in Middelburg op 28 September) opgestel. Vroeër vanjaar het hy die 3 000m-baanitem by die Kenneth McArthur-stadion in Potchefstroom in ’n tyd van 08:23:57 kafgedraf.

Op 18 Januarie vanjaar het Jason as 16-jarige atleet aan die o.20 SA landloopproewe deelgeneem en tweede in die hoër ouderdomsgroep geëindig.

Hy is toe gekies om Suid-Afika in April by die Afrika-kampioenskappe in Togo te verteenwoordig.

Ongelukkig is dit weens die Covid-19 pandemie gekanselleer.

Jason Bowers is ‘n belowende jong atletiekster van Vereeniging Gimnasium. Foto: Verskaf

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button