Local newsNewsNews

Oud-joernalis groet die Vaal

VANDERBIJLPARK. – Annette Willemse was vir amper twee dekades deel van die wel en weë van Vanderbijlpark, eers as joernalis by die Vaalweekblad en later as kommunikasie spesialis en deeltydse dosent by die Noordwes-Universiteit (NWU). Lesers sal haar ook erken as die een wat weekliks die Liewe Persoon rubriek geskryf het. Daar het sy ons bekendgestel aan haar ousus, Pilletjie (Celia) die apteker, haar tweelingsus, Juffrou, (Annelize) en natuurlik Steve die pekingnese. Annette kan raakvat met woorde en haar rubrieke het mens ingetrek en saam avonture laat beleef.

Sy en Annelize is in Klerksdorp gebore en was ses toe die gesin na Virginia in die Vrystaat verhuis het. Na matriek het sy haar Toegepaste Bedryfskommunikasie-graad (BBK) aan die destydse PUK verwerf.
Die ink op haar graad was nog nie behoorlik droog nie, toe bevind sy haar vir ‘n werksonderhoud by Vaalweekblad. “Ek het nog op my verjaardag vir die onderhoud gegaan by die destydse redakteur, Willie Buys. Dit was ‘n aaklige onderhoud en dit het gevoel asof ek met elke vraag van Willie net dieper in die aarde wou wegsak – as ‘n groentjie met ‘n splinternuwe graadsertifikaat en baie min ondervinding – moes ek behoorlik bontstaan vir sy vrae. Op die vraag: “Waarom is jy die geskikte kandidaat vir die posisie?” was ek al na aan trane en het toe uit pure radeloosheid gesê dat dit actually my verjaardag is en daarom verdien ek die pos!! En toe was daar die praktiese toets. Ek moes ‘n persverklaring skryf oor ‘n fiktiewe gebeurtenis, in hierdie geval: die sanger Steve Hofmeyr het tydens ‘n besoek aan ‘n myn in ‘n mynskag vasgeval. Met dié toets het ek ‘n bietjie beter gevoel, aangesien ek mos in ‘n myngemeenskap grootgeword het. Wel, lang storie kort: ek het die pos gekry en het aan die einde van 2001 by MooiVaal Media begin.”
Annette was vir vyf jaar joernalis en het dit baie geniet. “Retha Fitchat was my mentor en ‘n werksma sonder weerga. Ek het verskriklik baie by haar geleer. Ek is versot op mense en die manier waarop mense leef, en as ‘n joernalis kruis jou paaie met alle soorte mense. Jy kry ‘n dieper kykie na menswees – en in baie gevalle sien jy mense op hulle gelukkigste dae en hul hartseerste dae. En dit is dan wanneer jy besef dat almal – ongeag wat hul adres is, of hoeveel geld hulle in die bank het – in wese dieselfde hartklop het. Almal wil behoort.”
Aan die begin van 2007 het sy ‘n pos by die NWU aanvaar waar sy gehelp het om die Korporatiewe Kommunikasie funksie op die Vanderbijlparkkampus te help vestig. Nou, na 13 en ‘n half jaar is dit tyd vir ‘n nuwe wending in haar loopbaan, die keer as kommunikasie spesialis by Senwes. Die nuwe pos neem haar terug na haar geboortedorp, Klerksdorp. Vir haar is dit in meer as een opsig ‘n tuiskoms, want haar ma en die Juffrou woon daar. Selfs Steve die pekingnese is nou al geruime tyd by sy ouma in die dorp!
Annette sê sy gaan die Vaaldriehoek se mense die meeste mis en natuurlik die pragtige universiteitskampus langs die rivier. Naas haar werk, skryf en Afrikaans is sy versot op rooi skoene, geel plastiek eendjies (sy het meer as 50!) en krieket. Allan Donald is, was en sal altyd haar groot krieketheld bly. Sy beskryf haarself as ‘n softie wat met haar hart op haar mou rondloop. “Omgee dade laat my siel smile”.
Vanderbijlpark se verlies is Klerksdorp se wins. Ten minste sal ons steeds haar blog kan lees. “Ek voel baie gevly as mense sê dat hulle my blog lees én boonop geniet. Die onthou moet tog iewers aangeteken word – die soet en die suur. En wie weet, miskien, eendag skrop Liewe Persoon ‘n plekkie oop op ‘n winkelrak,” belowe sy. Ons sien uit na daardie dag, tot dan… voorspoed en geniet die nuwe uitdagings.

Annette saam met proff. Linda du Plessis en Dan Kgwadi toe sy haar 10 jaar langdienstoekenning ontvang het.
Steve die pekingnese is baie bly Annette gaan nou ook in Klerksdorp woon.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button