Polisiebeampte herstel na Covid-19-hel
’n Polisiebeampte van die Vaaldriehoek wat dodelik siek was met die Covid-19 virussiekte vertel van sy herstel van Covid-19 en sê dit is moontlik om die virus te oorwin: “Ek is Adjudant Offisier Nico Delport van die Polisie se Divisie Forensiese Dienste. Op 2020-07-07 het ek siek geword. Ek is in Vaalpark hospitaal opgeneem vir …
’n Polisiebeampte van die Vaaldriehoek wat dodelik siek was met die Covid-19 virussiekte vertel van sy herstel van Covid-19 en sê dit is moontlik om die virus te oorwin:
“Ek is Adjudant Offisier Nico Delport van die Polisie se Divisie Forensiese Dienste.
Op 2020-07-07 het ek siek geword. Ek is in Vaalpark hospitaal opgeneem vir bronchitis. Later het ek ook positief getoets vir die Covit 19 virus. Die kombinasie het my baie ernstig siek gemaak en ek is in die Hoësorg eenheid opgeneem. My toestand het vererger en die volgende dag het my liggaam begin ingee.
Daar is besluit om my onder sedasie te plaas. Maar my toestand het bly verswak en uiteindelik is ek aan ventilators gekoppel. My toestand was kritiek en daar was min hoop.
Gebedsgroepe is gestig via whatsapp en mense het vir my begin bid. Selfs vriende uit Amerika het by die gebedsketting aangesluit. Na omtrent sewe dae het daar verbetering begin kom. My bloedtelling en bloeddruk het stadig begin normaliseer.
My suster is intussen ook in die hospitaal opgeneem met Covit 19 terwyl ek nog in die koma was, het sy die geveg met Covit 19 verloor.
Na 8 dae het hulle die ventilators ontkoppel. Ek het die volgende oggend wakker geword. Ek het geen idee gehad wat met my gebeur het nie. Ek het nie eers geweet in watter hospitaal ek was nie.
Die Dokters en susters het vir my gesê dat medies gesproke, ek nooit moes wakker word nie. Spottenderwys het hulle my die Vaalpark hospitaal Wonderwerk genoem.
Ek het sterker geraak en is die 21ste Julie ontslaan.
Die Here het ons gebede verhoor en ‘n wonderwerk gedoen en my’ n tweede kans gegee.
Al wat ek kan onthou is dat Psalm 23 heeltyd in my kop gemaal het. Ek glo in my onderbewussyn het ek gesmeek vir my lewe. En almal se gebede is verhoor.
Tans sterk ek tuis aan. My liggaam het so verswak dat ek rehabilitasie moet deurgaan sodat die spiere weer normaal kan funksioneer.
Dis ‘n proses, maar elke dag word ek sterker.
Daar is so baie mense wat bedank moet word, eerstens my vrou wat ons gesin bymekaar gehou het in die tyd en al die gebedsgroepe in plek gekry het. En almal op hoogte gehou het van my vordering.
Die belangrikste is die personeel van Vaalpark Netcare hospitaal onder leiding van Dr Kotze:
In geen spesifieke volgorde nie:
Matrone Karen J van Vuuren
Ronèl Botes
Susan Wagner
Aster Coetzer
Kobie van Heerden
Hester Theron
Kensani Maluleke
Yolanda Venter
Cornè Ludzkie
Nick van der Walt
Johan Jacobs
Dr Abdul Aheem
Dr Searle.
Mense daar buite moet besef, Covit 19 moenie ligtelik opgeneem word nie. Hy affekteer mense op verskillende maniere. Mense moet asb protokol volg waar hulle ookal kom.
En laastens: as jy covit 19 gehad het en jou 14 dae in isolasie was, is jy nie meer positief nie. ‘n Sekere tandarts in Sasolburg het my vriendelik gevra om ander tandarts te soek want ek is’ n risiko vir hulle pasiënte. My vrou was gevra om ‘n sekere selfoon winkel te verlaat vandag, 23 dae na ek siek geword het.
Ek en my hele gesin is nou covit negatief. Jy is nie melaats as jy die siekte opgedoen het nie. En jy word gesond.” -Adjudant Offisier Nico Delport


