Boet en sus wil beseerde Jané se verjaardag spesiaal maak
VANDERBIJLPARK. – Behalwe dat Jané Vorster (14) van die fisiese beserings moet herstel wat sy opgedoen het in die motorfietsongeluk waartydens ‘n Gr. 12-leerder, Shelby van Wyk gesterf het, moet sy ook hard werk om emosioneel gesond te bly. Dié Gr. 8-leerder van die HS Driehoek is reeds sedert die dag van die ongeluk (18 …
VANDERBIJLPARK. – Behalwe dat Jané Vorster (14) van die fisiese beserings moet herstel wat sy opgedoen het in die motorfietsongeluk waartydens ‘n Gr. 12-leerder, Shelby van Wyk gesterf het, moet sy ook hard werk om emosioneel gesond te bly.
Dié Gr. 8-leerder van die HS Driehoek is reeds sedert die dag van die ongeluk (18 Julie) in die Netcare Unie-hospitaal in Alberton. Sy het veelvuldige beserings opgedoen. waaronder ‘n gebreekte nekwerwel, bekken, pelvis, enkel en matige bloeding op die brein.
Die Vorsters is ‘n hegte gesin en hoewel haar ouers daagliks vir haar gaan kuier, begin die verlange na haar huislike lewe en haar boetie en sussie sy tol eis.
“Dit is party dae maar moeilik om haar positief te hou. Sy verlang huis toe en soms word die verlange net die veel en dan loop die traantjies,” vertel ma Claudia.
By die huis is dit maar net so swaar vir die res van die gesin sonder die jongste lid daar. Jané se boetie Nathan (17) en haar sussie Chanté (15) se harte is baie seer, want hulle het haar twee weke laas gesien, die middag van die ongeluk.
“Vir Jané is haar verjaardag (14 Augustus) die dag van die jaar en sy sien altyd daarna uit. Daar word altyd met groot afwagting vooruit beplan vir dié dag,” vertel Claudia.
Sy het al heelwat boodskappe aan haar boetie en sussie gestuur dat sy nie in die hospitaal wil verjaar nie.

Dit is toe dat die twee besluit het om haar dag vir haar te probeer spesiaal maak.
Eerstens het hulle gedink dat mense spesiale boodskappe en videogrepe vir haar kan maak en aan hulle kan stuur (na 066 227 0697), wat hulle dan weer aan Jané op haar verjaardag kan stuur.
Tweedens het hulle spesiale T-hemde laat druk, en besluit om R30 ekstra by te vra wat sal help met die mediese onkostes en ook met die heen-en-weer ryery hospitaal toe. Sodoende voel hulle ook hul help hul ouers met die rekeninge wat nou begin instroom.
“Ons weet dit sal haar sommer baie spesiaal laat voel as sy al die boodskappe kry en sien hoe mense vir haar omgee,” sê die boet en sus.
* Op Nathan se T-hemp staan: I am the brother of a warrior a fighter gives up, a warrior pulls through. “My sussie is sterk en ons almal kan by haar leer, ons wil haar verjaardag spesiaal maak, ondersteun ons asseblief sodat dit nie die slegste verjaardag sal wees nie, maar die beste een ooit?”
