Help om ander se trollie ook vol te maak
MEYERTON. – Met inwoners wat al swaarder trek weens inperkingsregulasies en gesinne wat gedurende hierdie tyd in finansiële nood gedompel is het raadsheer Phil Pretorius, hoofsweep van die Midvaal Plaaslike Raad, en Helplift Meyerton, ’n organisasie wat behoeftiges help, kragte saamgesnoer om broodnodige hulp aan behoeftige mense in die gemeenskap te verleen. Winkeltrollies is by …
MEYERTON. – Met inwoners wat al swaarder trek weens inperkingsregulasies en gesinne wat gedurende hierdie tyd in finansiële nood gedompel is het raadsheer Phil Pretorius, hoofsweep van die Midvaal Plaaslike Raad, en Helplift Meyerton, ’n organisasie wat behoeftiges help, kragte saamgesnoer om broodnodige hulp aan behoeftige mense in die gemeenskap te verleen.
Winkeltrollies is by die Pick n Pay in Meyerton en die een in Golf Park geplaas en ’n beroep is op lede van die publiek gedoen om items soos nie-bederfbare kos daarin te plaas, wat aan beoeftige mense in die gemeenskap uitgedeel sal word.
Volgens Pretorius was hierdie inisiatief ʼn lewensredder vir talle mense in die omgewing.
“Dit het baie gehelp tydens Vlak 5 van die landwye staat van inperking en ons het ongeveer 20 trollies op hierdie wyse vol gekry.”
Pretorius vertel hoe hy met die idee opgekom het: “Ek het een dag deur ’n supermark gestap en besef hoeveel mense op ʼn daaglikse basis deur die winkel se deure stap en gedink as elke koper slegs een item in die trollie plaas dan sal hulle binnekort ʼn hele paar kospakkies kan pak.
“Die gemeenskap het hulle harte en hande oopgemaak en die trollies was ʼn reuse sukses.” Pretorius vra tog dat ons in hierdie tyd wat alles na normaal terugkeer maar die finansiële nood nou eers gaan tref, steeds bydraes lewer vir die golf van hongernood wat voorlê.
Pretorius verduidelik: “Dit werk goed as persone net een item in die trollie plaas. Dit beteken dat die trollie dan elke derde dag vol raak.
“Ons vra vir basiese noodsaaklikhede maar sommige mense dink helder en gee ook hondekos, sanitêre doekies, babadoeke, babamelk, tandepaste borsels en ander items.”
*Raadsheer Phil C Pretorius kan ook direk gekontak word by 082 6969 007 vir nie-bederfbare kosdonasies en HELPLIFT by 083 232 0359 vir kos- en finansiële bydraes.
Volgens Pretorius werk hulle hand-in-hand met organisasies in Meyerton soos NG Welsyn om dit aan armes in Meyerton dorp, Golf Park, x6, x3, x4 te versprei.
*Dit is slegs vir donasies in die Meyerton-omgewing.



