Mac’s Motorfietsklublid sterk aan in hoësorgeenheid
VANDERBIJLPARK. – ‘n Lid van die Mac’s Motorfietsklub, Gregory (Greg) Kruger (53) van die dorp, sterk tans in die hoësorgeenheid van die Mediclinic Emfuleni aan nadat hy Saterdag die dood net-net vrygespring het in ‘n ongeluk op die Barrageweg naby die Stephanopark-kleinhoewes net buite die dorp. Greg se linkerarm en -been is in die ongeluk …
VANDERBIJLPARK. – ‘n Lid van die Mac’s Motorfietsklub, Gregory (Greg) Kruger (53) van die dorp, sterk tans in die hoësorgeenheid van die Mediclinic Emfuleni aan nadat hy Saterdag die dood net-net vrygespring het in ‘n ongeluk op die Barrageweg naby die Stephanopark-kleinhoewes net buite die dorp.
Greg se linkerarm en -been is in die ongeluk gebreek en hy het ook ‘n diep sny aan sy voorkop opgedoen.
Die ongeluk het omstreeks 09:30 gebeur toe die bestuurder van ’n bakkie Greg vermoedelik nie gesien het nie en voor hom ingedraai het.
Ander lede van die klub het om Greg gestaan waar hy in die veld gelê het, terwyl daar vir die nooddienste gewag is. Die motorfietswrak het ‘n ent verder eenkant in die veld gelê.
ER24 het net na 10:00 by die ongelukstoneel opgedaag. Hulle het Greg op die toneel behandel en daarna hospitaal toe geneem.
“Hy het teen Maandag reeds die nodige behandeling vir die diep sny en die gebreekte arm ontvang. Greg se been is gister (Woensdag) geopereer,” het Steven Möller, President van die Mac’s Motorfietsklub aan Vaalweekblad gesê.
Möller het ook gesê dat Greg se vrou Daleen, bevestig het dat Greg by sy volle postiewe is.
Die bakkie wat in die ongeluk betrokke was, is ook erg beskadig en die twee insittendes het ook beserings opgedoen.

