NWU se prof. Linda doen alles met oorgawe
VANDERBIJLPARK. – Prof. Linda du Plessis wat met twee doktorale grade agter haar naam spog, is die adjunk-visekanselier: Toewysbare Funksies en Vanderbijlparkkampusbedryf aan die Noordwes-Universiteit. Sy was die eerste Suid-Afrikaner wat ‘n internasionale doktoraal in Besigheidsadministrasie verwerf het. Vir haar vriende en familie is sy net Linda, eggenote, ma, dogter, suster en vriendin. In Februarie …
VANDERBIJLPARK. – Prof. Linda du Plessis wat met twee doktorale grade agter haar naam spog, is die adjunk-visekanselier: Toewysbare Funksies en Vanderbijlparkkampusbedryf aan die Noordwes-Universiteit. Sy was die eerste Suid-Afrikaner wat ‘n internasionale doktoraal in Besigheidsadministrasie verwerf het.
Vir haar vriende en familie is sy net Linda, eggenote, ma, dogter, suster en vriendin. In Februarie het sy ook ouma geword toe haar eerste kleindogter gebore is. ‘n Titel waarop sy baie trots is.
Linda en haar man Jannie, het drie kinders en die grendeltyd was vanjaar vir ekstra gesinstyd verantwoordelik. Naweke geniet sy dit om kos te maak en sy sê sy ontspan die beste met ‘n storieboek. Sy beskryf haar gesin as boekwurms vir wie lees en boeke baie belangrik is. Desembers is altyd spesiaal, want ‘n vakansie by die see sluit ook legkaartbou in. Koffietyd saam met ‘n vriendin is ’n groot lekkerte. Dan is daar die spesiale familienaweek elke jaar wanneer haar man se familie bymekaar kom vir ‘n groot kuier en baie lag.
“Covid-19 het my laat besef kuiers saam met familie en vriende is nie ‘n gegewe nie. As ons eendag by vlak 1 verbybeweeg, wil ek familie oornooi – buite braai en tot laat saamkuier, saam met vriende lag en my ma en skoonouers besoek sonder om bang te wees ek stel hulle bloot aan ‘n siekte. Ek wil by my kollegas se kantoor kan inloer. Mens mis familie, mens mis vriende, mens mis mense…”
Haar leuse was nog altyd, as jy iets aanpak, doen dit dan met oorgawe. Omdraai as dinge moeilik raak is nie vir haar ‘n opsie nie. Linda sê: “Ek het ook al geleer as mens midde ‘n krisis staan, moet jy partykeer so ‘n paar tree terugstaan om net weer perspektief te kry. ‘n Sin vir humor is nodig om die spanning te verlig! “Ek het geleer ‘n mens mag foute maak, solank mens net daaruit leer. Toe ons klein was, veral as ons oor iets gekla het, het my ma altyd gesê: ‘Tel jou seëninge’ – dit is wat ek elke dag doen.”
Linda het haar skoolloopbaan by ‘n plaasskooltjie op Magaliesburg begin en uiteindelik matriek geskryf aan Hoërskool Bergsig in Rustenburg. Op hoërskool het sy provinsiale kleure in tennis verwerf. Sy reken al die wedstryde teen haar ouer broer het haar baie gehelp, want dit het haar geleer om harde balle te verwag!
Na matriek was daar slegs lenings beskikbaar vir maatskaplike werk of onderwys. “Ek het toe ingeskryf vir maatskaplike werk, maar het later omgeskakel na natuurwetenskappe.” Sy het haar graad met behulp van deeltydse werk en ‘n studielening voltooi en daarna haar honneurs deeltyds gedoen. Na hul troue het Jannie haar aangemoedig om ook ‘n meestersgraad aan te durf. Linda het as programmeerder by die destydse Yskor begin werk, maar die universiteit se dinamika, werkswyse en akademiese vryheid het haar gefassineer en toe die geleentheid hom voordoen, het sy aansoek gedoen vir ‘n pos by ‘n tersiêre instansie.
Dit het nie net ‘n wending in haar loopbaan gebring nie, maar ook ‘n heel nuwe avontuur vir haar en haar man. Sonder spaargeld en met studieskuld, het hul besluit om ‘n verwaarloosde bankteruggeneemde huis te koop en self te restoureer. “Ons het elf maande in ons eerste huis gebly – geleer om te teël en te verf – braaiplekke te bou en wat ook al nodig was om die plek leefbaar te maak. Ons het Vrydae aande na veilings toe gegaan en enige iets wat ons dink ons kan gebruik, gekoop. Ek moet my man krediet gee dat hy baie geduld gehad het en ons was ‘n goeie bouspan,” vertel sy. Uiteindelik het hulle in minder as drie jaar vier huise gekoop, reggemaak en verkoop, tot hul blyhuis oor hul pad gekom het.
Linda het in die akademiese omgewing gefloreer en nooit weer teruggekyk nie. Nadat sy haar eerste Ph.D. in 2003 verwerf het, het dit haar toekoms onverwags in ‘n ander rigting gestuur. Technikons is geherklassifiseer as Universiteite van Tegnologie en skielik was daar meer klem gelê op ‘n doktorsgraad as ‘n voorvereiste vir senior akademiese aanstellings. Linda is tot ‘n bestuurpos bevorder en die res is, soos hul sê, geskiedenis.
