Ligte-leesstof: Ek gaan kamp toe saam
Dit was die lente van 2016… ‘n Paar maande terug sê Antoinette: “Ons gaan die Lost City fietswedren ry en kamp. Kom jy saam? “Ek het in dekades nie gekamp nie, maar hoe moeilik kan dit nou wees? Organiseer en leen slaapsak en opblaasmatras by myse ouboet-neef en wag vir verdere instruksies wat ek moet …
Dit was die lente van 2016…
‘n Paar maande terug sê Antoinette: “Ons gaan die Lost City fietswedren ry en kamp. Kom jy saam?
“Ek het in dekades nie gekamp nie, maar hoe moeilik kan dit nou wees? Organiseer en leen slaapsak en opblaasmatras by myse ouboet-neef en wag vir verdere instruksies wat ek moet saamvat. Antoinette sê sy het goete waarmee mens kamp, ek begin benoud raak. Gelukkig laat weet haar boet, Wynand en sy seun, Markus, hulle bring die karavaan. Ons kan sommer in die karavaantent slaap. Vrydagmiddag pak Antoinette haar Ants-mobile net so kort van dakhoogte. Marion se kar kreun ook bietjie. “Nes my pa altyd gesê het,” verklaar Jaco, “ons Vaalies kan nêrens heengaan sonder om die hele huis saam te vat nie.”
Ons haal teen laatmiddag die terrein. Die karavaan en tent staan klaar. Wynand en Markus lyk of hulle ‘n marathon gehardloop het. “Hierdie is nie sand nie, dis klip,” sê Wynand, met die hamer nog in die hand. “Ek moes my boor gebring het.”
Antoinette koppel een van haar goete aan haar kar en binne minute toe is twee opblaasmatrasse vol lug. Ek rig vir my ‘n hoek in die tent in. En dis toe dat ek dit sien, my geleende opblaasmatras is kort. Baie kort. Mag dalk aan my ouboet behoort, maar ek kan sweer hy het nog nooit op die ding probeer slaap nie. Maar slaap kry ek toe darem geslaap. Toe ek vroegoggend die sein gooi Springs toe, lag hy lekker vir my.
“Jy hoef mos net skouers en heupe op ‘n matras te hê.” En nee, hy het nog nooit sy oor die 6 voet lyf op daai matras probeer inpas nie…
Deur die loop van die naweek besef ek ek is nie ‘n aanwins as daar gekamp word nie. Ek het ‘n totale gebrek aan die praktiese talente wat benodig word om te kamp. Pype wat inmekaar moet steek om ‘n tent te word is vir my ‘n misterie en hoe mens veronderstel is om ‘n slaapsak weer op te rol om in ‘n miniatuursakkie te pas, gaan my verstand te bowe.
Antoinette is goed met sulke dinge. Sy het dit wraggies reggekry om daai opblaasmatras weer so plat te kry dat dit in die oorspronklike boksie gepas het! Hoe? Ek het geen idee nie, en ek het gekyk hoe sy dit doen.
Ek het my verstom aan al die verskillende tente en karavane en goete wat die mense by daai kampterrein gehad het. En hoe hulle skoon uit die badkamers kon kom. Die beligting in ‘n karavaanpark se badkamers laat mos veel te wense oor. Dis altyd so half duister.
Dis dié dat ek Vrydagaand te laat besef het, die hokkie waar ek ingeglip het om gemakliker klere vir slaap aan te trek, se vloer was papnat. Balanseer ek toe nou maar op my sandale en probeer my uiterste bes om my ‘tights’ aan te trek sonder dat dit die grond raak. Was moeilik, baie moeilik.
Gisteraand toe ek by die huis instap, dog ek eers ek lyk vreeslik moeg, want so stel ma en minute later pa voor dat ek ‘n lekker warm bad gaan vat. Kom in die badkamer en beskou vir die eerste keer in twee dae myself in ‘n ordentlike spieël. “Aitsa, ek het ‘n lekker sonbrand weg,” praat ek met myself.
My gesig en arms is mooi bruin. Wel, ek het onraad begin vermoed toe ek nie my voete kon skoonkry nie. Nodeloos om te sê, ek het my “tan” afgewas!
Kyk die Noordwes is baie droog en by daai kampplek was net stof en doringbome. As die wind so speels oor alles gevee het, dan het ek fyn doringboomsaadjies op onnoembare plekke uitgehaal.
Die ergste was die oom en tante wat oorkant ons hul karavaan gehad het. Die mense ry een van daardie groot, wit bakkies. Elke keer as die wind so bietjie stof opgeskop het, was die tante buite, gewapen met ‘n groot, pienk verestoffer. Dan begin sy hier by die agterkant en stof daai hele bakkie af! Vreemd, baie vreemd. Is die eerste keer in my lewe dat ek sien ‘n arme bakkie mag nie stof op hê nie. Ek dink daai tante sal oorval kry as sy ooit die Fransman ontmoet, want die is mos allergies vir seep en water.
