Toekomstige jong joernaliste geskool
VANDERBIJLPARK. – Skoolgaan op Saterdag klink vreeslik, maar die Gr. 6 en 7’s van die Vaal Triangle Academy (VTA) het hul drie Saterdagoggendsessies baie geniet. Veral die Engelse klas. Hul onderwyser, Frans Britz, het dit goed gedink om die ekstra lesse te omskep in ‘n Skryfskool en hierdie joernalis genader om elke keer ook ‘n …
VANDERBIJLPARK. – Skoolgaan op Saterdag klink vreeslik, maar die Gr. 6 en 7’s van die Vaal Triangle Academy (VTA) het hul drie Saterdagoggendsessies baie geniet. Veral die Engelse klas. Hul onderwyser, Frans Britz, het dit goed gedink om die ekstra lesse te omskep in ‘n Skryfskool en hierdie joernalis genader om elke keer ook ‘n paar gedagtes te deel.
VTA is een van die dorp se kleiner privaatskole en daar is nie baie kinders in die klasse nie. Saterdagskool begin om 08:00. Dis winter. Dis koud, maar die ogies blink bokant die maskers. Hier en daar kom een met ‘n kombers in om oor bene te gooi teen die koue. Van hulle raak skoon weg agter die tafels met die groot perspeks blaaie wat elke tafel verdeel.
Mnr. Frans verstaan kinders. Voor die Skryfskool se periodes begin, kry elke kind eers ‘n toffie. Regte-egte Wilson toffies wat hulle in die klas mag eet. Die eerste Saterdag is van hulle redelik verstom om te hoor ‘n mens kan betaal word vir dit wat jy skryf. Dis duidelik dat die meeste gedink het om opstelle te skryf sommer net iets is wat skole uitgedink het om kinders mee besig te hou. Hulle leer ook van die vyf W’s en die H (wie, wat, waar, wanneer, waarom en hoe) en dat ‘n mens die basis vir ‘n storie het as jy die ses vrae kan beantwoord.
Twee weke later kry hul hul eerste opdrag. Elkeen moet ‘n kort paragraaf skryf oor hulself of enige ander persoon wat hul goed ken. Dat daar hegte vriendskapsbande onder dié kinders is, is baie duidelik, want in albei klasse het ‘n hele paar boesemvriende waarhede oor mekaar kwytgeraak. Dié joernalis en meneer is ook beskryf. Soos Frans later berig het: “Wat skryf hulle oor Gerda? Sy’s “friendly” en “charming”. Wat skryf hulle oor my, hul taalonderwyser? “He’s as old as the hills!” Ek het gedink: ek hoop ek lyk soos ‘n mooi groen Ierse heuwel. En nie ‘n verlepte duin in die Namib nie…”
1 Augustus was dit vir eers die laaste Skryfskool. Frans deel kaarte met prentjies op uit. Hulle moet so ses sinne skryf wat die begin van ‘n storie kan vorm, of dalk sommer ‘n hele storie besluit die joernalis. Die kinders sit grootoog en staar na die prentjies. Meneer herinner hulle aan spelling en woordeboeke. Die joernalis gee storie-idees en help ywerig soek om moeilike woorde soos “journey”, “intelligent” en “encourage” op te kyk.
‘n Gebore onderwyser is ek beslis nie, maar dit was goed om een in aksie te sien. Hierdie joernalis het die Skryfskool net so baie soos die kinders geniet. Daar is iets besonders daarin om te sien hoe ‘n kind se skouers reguit trek en hul meer regop sit van trots as hul werk geprys word of hul daardie moeilike woord self opgespoor het.
Hul laaste stories bevat enige iets van onskuldige kinderstories, ‘n nuwe weergawe van Tarzan, ‘n storie oor ‘n Engel, ‘n jakkals wat reënboë en roomys kon toor tot ‘n paar wat geneig het tot die abstrakte en makabere…
Een jong skrywer het vertel van ‘n “hillbilly” wat in ‘n oomblik van waansin deur ‘n verbeelde koningin Antarktika toe gestuur is en vergeet het om sy klere te pak. ‘n Igloo gebou het en toe ‘n week later dood is aan “frostbite”. Hy eindig die verhaal met “I doubt that society will remember him.” 10/10 vir oorspronklikheid aan daardie jong man, wat alles onthou het, behalwe om sy naam bo-aan die bladsy te skryf.
Hopelik kan die Skryfskool weer ‘n paar klasse in die lente hê, want onder dié jongklomp is daar beslis kinders met die potensiaal om as toekomstige joernaliste, skrywers en draaiboekskrywers te ontpop.

