Vaal se hamergooi legende met vele talente
SASOLBURG. – Die oomblik as jy oor die drumpel van Basie Koen se huis stap, betree jy ‘n wêreld van warm kleure, teksture, ruimhartige gasvryheid en lekker luister stories met ‘n skerp sin vir humor. Die hamergooi spesialis en voormalige wêreld meesterskampioen in korthamer se paadjie het op ‘n jong ouderdom met die sport gekruis. …
SASOLBURG. – Die oomblik as jy oor die drumpel van Basie Koen se huis stap, betree jy ‘n wêreld van warm kleure, teksture, ruimhartige gasvryheid en lekker luister stories met ‘n skerp sin vir humor. Die hamergooi spesialis en voormalige wêreld meesterskampioen in korthamer se paadjie het op ‘n jong ouderdom met die sport gekruis.
Basie se pa, Charlie Koen (sr.) was die SA rekordhouer vir agt jaar in hamergooi en sy broer, Charlie Koen (jr.) het in sy pa se voetspore gevolg. “Ek was te klein en te maer,” lag hy.
Basie het eers op 39 jaar in die meestersafdeling begin kompeteer in hamergooi en die kort hamer (weight throw). “Ek het geweldig hard gewerk en geoefen daardie jare,” onthou hy.
In 1993 het hy aan die Wêreld Meesters Atletiekkampioenskappe in Miyazaki, Japan deelgeneem en brons in die hamergooi verower. Daarna het baie binne-en buitemuurse byeenkomste gevolg waar hy keer op keer die goud in die kort hamer verower het. Hy onthou tydens die wêreld meesterskampioenskappe van 2006 in Linz, Oostenryk, het hy die heeltyd tweede in die kort hamer gelê. “Met my laaste gooi vir die dag, toe breek ek die Suid-Afrikaanse rekord en klop ‘n voormalige Olimpiese kampioen van Duitsland,” vertel hy trots.
Basie is ook baie trots op die atlete wat hy in sy jare as hamergooi afrigter geskool het in die fynere kunsies van die sport. Groot name soos Chris Harmse, Letitia Jansen van Rensburg en Tshepang Makhete het al sy pad gekruis. As afrigter het hy gesorg dat hy gereeld van die Europese kampioene na Suid-Afrika bring om die jongelinge te leer.
“Hamergooi is baie meer as net brute krag en talent, jy moet al die tegniese vaardighede onder die knie kry,” sê hy en beduie net daar in die sitkamer hoe belangrik dit is dat ‘n atleet sy oog op die hamer hou, anders is daar nie balans nie.
Balans, fokus en roetine is drie elemente wat hy in alles inbring. “Onthou, as jy van die huis af werk, om balans te hê. ‘n Mens kan nie net heeltyd werk nie, dan ly ander dinge in jou lewe daaronder,” kry die joernalis advies. Basie self is baie meer as ‘n voormalige nasionale kampioen en hamergooi afrigter. Hy het na matriek kuns studeer, was ‘n kunsonderwyser en later ook kunsdosent, Departementshoof: Beeldende Kunste en het uitgetree as Dekaan: Geesteswetenskappe aan die VUT in Vanderbijlpark.
Met die pandemie wat sport aan bande gelê het, fokus hy nou al sy aandag op sy kuns. Sy skilderye maak stories in jou kop los en die ryk kleure trek jou in. Daar is vonk en lewe in sy werk. Basie maak hoofsaaklik gebruik van pastel, waterverf en akriel. Op die oomblik neig hy na abstrakte realisme. Van sy kunswerke en die stories daaragter is op sy amptelike facebookblad, @BasieKoenArt te sien. Hy het ook ‘n passie vir die ruimte en ruimtereise.
Onder sy boekversameling is daar boeke oor Buzz Aldrin, Neil Armstrong en Elon Musk. Die boek wat egter die grootste indruk op hom gelaat het, naas die Bybel, was Chris Hadfield se An Astronaut’s Guide to Life on Earth. Een van Basie se meesterstukke is Eve in the garden of Heavenly Delights. Hy het verskillende items, van hout tot waterverf en polistireen gebruik om die kleurryke boodskap oor te bring van die mens se soeke na die perfekte omgewing om te leef, terwyl ons in die proses die ruimte bokant die aarde vol gemors laat. Die kunswerk is die teenoorgestelde van die Noord Europese Renaissance kunstenaar, Hieronymus Bosch’s se werk, The Garden of Earthly Delights.
Kuns wat oor tyd en ruimte strek, wat die abstrakte saam met die lewensgetroue ineenvleg. Net soos die kunstenaar self, wat steeds elke dag gefokus aanpak, maar wat ook gemaklik ‘n middag opsy sit om geduldig stories te vertel van maanlandings, pendeltuie, lanserings, speelgoedkarretjies, houtbote en enige iets anders waaroor ‘n nuuskierige joernalis meer wil weet.

