Vaalpark-egpaar vier vandag 60ste huweliksherdenking
SASOLBURG. - Die Pieterse-egpaar van Vaalpark vier vandag (13 Augustus) hul 60ste huweliksherdenking! Goeie genugtig, dit is mos ‘n mylpaal om op trots te wees. Pietie en Myrna het op daardie onvergeetlike dag in 1960 ewige trou aan mekaar beloof en het nie net hul belofte nagekom nie, maar ook wonderlike hoogtepunte saam bereik.
Hulle woon reeds sedert 1976 in dieselfde huis wat hulle in Vaalpark laat bou het. Pietie is baie lief vir tuinmaak. Danksy sy agtergrond as sakeman, het hy ‘n wye algemene kennis en bly op hoogte van veral finansiële sake. Myrna, wat in alles sy grootste steunpilaar is, het deur die jare die huishouding behartig en ook by die besigheid gehelp.
Hul paaie het gekruis toe Pietie saam met Myrna se suster by die destydse Departement Bantoe Administrasie in Pretoria gewerk het. Pietie het dadelik van die mooi “blou-oog” nooi gehou. Myrna het nadat sy haar laaste skooljaar voltooi het, ook daar begin werk.
Hulle het mekaar vyf jaar geken voor hulle die groot stap geneem het. In 1959 het Pietie by Trust Bank in Johannesburg begin werk. ‘n Jaar later kry hy bevordering na die Pretoria-tak en in 1962 het hy bevordering gekry om die Trust Bank-tak in Vereeniging as bestuurder te open. Die egpaar se seun Arends, is in April 1962 gebore en hul dogter Myrtle in 1966.
Pietie het in 1976 die bankwese vaarwel geroep en saam met sy vennoot, Koos Bekker, Bekker en Pieterse Motors in Vanderbijlpark begin. In 2004 is Koos egter oorlede en Pietie het besluit om af te tree.
Die gelukkige egpaar geniet nog goeie gesondheid en hulle onwrikbare geloof in hul Skepper is ʼn mooi voorbeeld vir almal. Pietie word in September 84 en Myrna het in Julie 81 geword. Hulle het twee kinders, vyf kleinkinders en twee agterkleinkinders.


