Geliefde ‘Juffrou Ronnie’ het nou ‘n klassie in die Hemel
Ronnie (83) is in Julie onverwags aan ‘n hartaanval oorlede, maar die stempel wat sy deur die jare op baie kinders, ouers en haar kollegas se harte afgedruk het, sal altyd bly.
Retha Fitchat
VANDERBIJLPARK. – Duisende kleuterskool- en laerskoolkinders wat tussen 1957 en 2007 leerlinge van mev. Veronica (Ronnie) Gersteroph was, sal dié onderwyseres met haar kenmerkende goudblonde bob as hul “skoolmamma” onthou, wat selfs die mees verskrikte kind met haar rustige stem en sonskynpersoonlikheid kon kalmeer. Ronnie (83) is in Julie onverwags aan ‘n hartaanval oorlede, maar die stempel wat sy deur die jare op baie kinders, ouers en haar kollegas se harte afgedruk het, sal altyd bly. Ronnie is op 3 Maart 1937 in Parys in die Vrystaat, gebore en het in 1957 as ‘n Gr. 2-onderwyseres aan die destydse Wording Skool in Vanderbijlpark begin skoolhou. Sy was daarna tot in 1969 aan die Laerskool DF Malherbe verbonde totdat sy in 1981 haar pos as die “Hondjie-klas” se juffrou by Kammaland Kleuterskool aanvaar het. Sy het in 1993 hoof van die kleuterskool geword. Danksy haar toewyding, harde werk en innemende persoonlikheid het sy dié kleuterskool destyds tot een van die spogskole van sy soort in Vanderbijlpark help ontwikkel. “Juffrou Ronnie het nooit nodig gehad om hard met ons kleintjies te praat nie. Almal het soveel respek vir haar gehad dat jy vanself gehoorsaam wou wees as sy gepraat het. Sy het nie net pleisters op nerf-af knieë geplak nie maar ook verstaan hoe om teruggetrokke kinders se selfbeeld te bou. Ek glo sy het nou ‘n klassie in die Hemel,” sê Janus Botha, een van haar oudleerlinge in die 1980’s. Ronnie is in 1961 met ‘n jong Duitse ingenieur, Manfred Ruprecht-Gersteroph, getroud en het hulle in Vanderbijlpark gevestig, waar hul twee dogters en seun ook later gebore is. Manfred is reeds in 2005 oorlede. Buiten haar passie vir kinders, die onderwys en haar gesin, was Ronnie ook lief vir tuinmaak, buitelandse reise, haar groot versameling boeke, blokkiesraaisels invul en om vir die gesin se talle katte te sorg. ‘n Privaatviering van haar lewe sal op ‘n later datum gehou word.
