Brande: Maak seker jy het ‘n noodplan!
MEYERTON. – Meyerton Brandweer sê daar was die afgelope drie maande ’n beduidende toename in die getal brande en waarsku die publiek om versigtig te wees en die nodige stappe te neem om hulle eie veiligheid en dié van ander te verseker. Volgens Tertius Engelbrecht, stasieoffisier by Midvaal Brandweer, het die brandweer gedurende die tydperk …
MEYERTON. – Meyerton Brandweer sê daar was die afgelope drie maande ’n beduidende toename in die getal brande en waarsku die publiek om versigtig te wees en die nodige stappe te neem om hulle eie veiligheid en dié van ander te verseker.
Volgens Tertius Engelbrecht, stasieoffisier by Midvaal Brandweer, het die brandweer gedurende die tydperk van Junie tot laat in Augustus op altesaam 33 struktuurbrande gereageer.
Die strukture waar die brande ontstaan het sluit huise, lapas, motorhuise, sinkhuisies en skrootwerwe in.
“Die groot oorsaak van die brande is meestal elektriese kortsluitings en verwarmers wat aan gelos word,” vertel Engelbrecht.
Die Midvaal Brandweer bied die volgende wenke/raad aan lede van die publiek:
*Maak seker die noodnommer van die Brandweer is op jou foon en almal in die huis ken dit. “Daai paar minute wat gespaar word as jy die nommer ken en ons direk kan skakel maak die verskil tussen ’n lewe wat verloor word en ’n gedeelte van jou huis wat ons kan red,” vertel Engelbrecht.
*Maak seker dat jy en jou gesin (en ander inwoners op die erf) ’n weldeurdagte noodplan in plek het vir wanneer daar ’n brand ontstaan. Dit sal mense in staat stel om veilig die huis te kan ontsnap in geval van ’n brand. Oefen die plan in sodat jy presies weet wat om te doen as daar ’n brand ontstaan.
*Maak seker die krag word deur ’n gerigistreerde elektrisien getoets.
*Moenie selfoonlaaiers of enige elektriese toestel in die muurprop los as dit nie gebruik word nie.
*Gaan elektriese kabels na, veral dié wat nie sigbaar is nie en kabels wat agter ’n kas of onder ’n bed lê
*Maak seker dat elkeen weet waar die huissleutels in die aand gehou word sodat ’n deur oopgesluit kan word om die huis te verlaat indien ’n brand ontstaan. (Los tydens die noodgeval die sleutel in die deur).
*Maak die gesin deeglik bewus van die gevare van ’n brand.
*Bly kalm wanneer jy ’n noodgeval rapporteer. Gee jou addres, foonnommer en nabygeleë bakens deur sodat die brandweer jou maklik kan opspoor en wees op jou selfoon beskikbaar indien hulle jou moet terugskakel.
*Maak seker die roete is toeganklik vir brandweervoertuie. Engelbreght vertel dat die ingange na wonings gereeld – veral in landelike gebiede – met bome, takke wat laag hang of ander voorwerpe versper word.
Midvaal Brandweer se noodnommers is (016) 360- 7500 en (016) 360-5911.


