Daar’s ‘n nuwe ‘sheriff’ in die Vaal
VEREENIGING. - Daar is ‘n nuwe “sheriff” in die Vaal. Sy naam is Jacques Roos en hy het ‘n unieke “polisiemotor” om dit te bewys.
Elsje Vermeulen
‘n Plaaslike inwoner, Eddie Pelser van Vereeniging, het onlangs dié nuwe “sheriff” by die verkeerskruising naby Magic Lawns gewaar en dit het sy belangstelling geprikkel. Vaalweekblad het besluit om Eddie na antwoorde te help soek. Dit is hier waar die soektog begin het. Daar is eers ‘n soortgelyke voertuig gevind wat vermoedelik aan twee broers in Pretoria behoort wat ou motors versamel … maar dit was nie die regte een nie.
Toe kom Vaalweekblad op nog ‘n vonds af. Jan du Plessis van Meyerton wat met ‘n pragtige ysterperd spog, wat kompleet lyk soos die motorfietse wat in die gewilde TV-reeks Chips in die 80s te sien was. (die berig sal ook binnekort gepubliseer word).
En toe was dit “third time lucky”.
Jacques is die eienaar van Emerald Auto Body in Vereeniging, maar onder motorsport-geesdriftiges is hy bekend as Suid-Afrikaanse Sprint-renjaer. Die motor het eers aan sy ewe bekende pa, Johan Roos behoort, wat ‘n voorliefde vir motors en in besonder ‘n ou Ford Fairlane gehad het.
Toe sy ouers in ‘n motorongeluk gesterf het, het Jacques die eienaar van dié Ford geword.
Intussen moes die werkswinkel van Vanderbijlpark na Vereeniging verskuif word en die Ford Fairlane was vir eers vergete.
“Die Ford was eers rooi en nie baie mooi nie. Toe ons met die restourasiewerk begin het, het ons ontdek dat sy oorspronklike kleur swart was. Dit is toe dat ek besluit het om die motor soos ‘n Amerikaanse polisiemotor te herbou,” vertel Jacques.
Die Ford het lank op die perseel gestaan voordat die restourasiewerk onlangs voltooi is.
En toe breek die dag aan. Dit was juis met daardie eerste langverwagte rit dat die prag motor Eddie se oog gevang het. Jacques het onlgelukkig nie agtergrond oor waar sy pa destyds die motor gekoop het of vir hoeveel nie. Wat Vaalweekblad wel weet, is dat Jacques met elke rit in daardie unieke Ford Fairlane, ander motoriste se dag sal opvrolik.



