‘Chips’ hier kom Meyerton se Dup op sy ysterperd
MEYERTON. - Asof die motorfiets nie reeds genoeg aandag trek nie, skakel Dup die polisie-sirene aan om duidelik aan te kondig dat hy opgedaag het. Dit was nou onlangs vir die onderhoud en fotosessie oor dié besondere chroom ysterperd. Want sien, Dup spog met ‘n pragtige ysterperd wat kompleet lyk soos die motorfietse wat in die gewilde TV-reeks "Chip"s in die 80s te sien was.
Elsje Vermeulen
My en Jan du Plessis (of sommer net Dup soos sy vriende hom ken) se paaie het onlangs gekruis in die soektog na die unieke polisiemotor wat in Vereeniging opgemerk is. Laasgenoemde is uiteindelik opgespoor en is ‘n Ford Fairlane wat aan die plaaslike sakeman en renjaer, Jacques Roos van Vereeniging behoort. (Volledige berig het reeds verskyn).
Maar terug by die ysterperd! Dup het sy besondere 1978 Kawasaki 1 000P (die P staan vir Polisie) op 11 Januarie 2000 op ‘n veiling in Johannesburg gekoop. Hy het destyds R10 000 vir die motorfiets betaal.
“Ek het deur die jare die motorfiets by vier verskillende restoureerders gehad, maar so vier jaar gelede het ek besluit om self in te spring en die restourasiewerk te voltooi,” vertel Dup. Hy sê hy is nie meer ‘n jong man nie (75), en dit het hom sowat drie en ‘n half jaar geneem. Hy het oorspronklike onderdele vir dié taak laat invoer. Hy het die verfwerk in Vereeniging laat doen en die chroomwerk in Johannesburg en siedaar, nou spog hy met ‘n ware “California Highway Patrol” motorfiets.
“Dit was alles die moeite werd, ek is baie trots op die motorfiets en geniet dit om daarmee te ry,” sluit Dup af, voordat hy so in die wegry die sirene weer aanskakel en totsiens wuif.



