Nog ‘n geliefde Vaal-inwoner sterf
VANDERBIJLPARK. - ‘n Donker wolk van hartseer het gedurende Augustus oor die Vaal gehang met ‘n groot aantal jarelange inwoners wat vir ewig gegroet is, en steeds is die hartseer nie verby nie. Op 18 Augustus moes nog ‘n gesin hul geliefde eggenoot, pa en oupa aan die dood afstaan. Dawid (Dawie) Bierman (78) was ‘n bekende gesig in die dorp wat op sy nederige manier diep spore in baie mense se lewens getrap het.
Elsje Vermeulen
Dawie is sowat twee maande gelede met dimensia gediagnoseer. Op 20 Julie is hy met klaarblyklike longontsteking in die hospitaal opgeneem, waarna daar ongelukkig ‘n klomp terugslae gevolg het. Vir vier weke het hy hard geveg maar het die stryd op 18 Augustus verloor.
As kind het Dawie in Heilbron grootgeword. “Brandarm en ongelooflik stout,” het hy homself gereeld in staaltjies beskryf. As jongman het hy veral in rugby (provinsiale vlak) en atletiek uitgeblink.
Hy het sy werksloopbaan in die poswese afgeskop. Dit was ook gedurende dié tyd dat hy sy trouvrou Annatjie ontmoet het. Dawie het daarna in 1971 van beroep verander en by die destydse Yskor (ArcelorMittal) begin werk. Hy en Annatjie is in 1972 getroud en het hul lewe in Vanderbijlpark begin. Twee kinders is uit die huwelik gebore.
Na 23 jaar se diens by Yskor was daar sprake van afdankings en dit het Dawie laat besluit om eerder pakket te vat. Hy het toe by Edgars in die dorp begin werk as deel van sekuriteit. “Hy het nooit van stilsit gehou nie en met sy werk sou jy ook nie fout vind nie. Hy het later jare ook by Woodman gewerk totdat hy finaal afgetree het,” sê Karen Venter (dogter).
“Sy vriendelike geaardheid was een van sy sterk eienskappe. Sy groot trots was egter sy gesin: my ma Annatjie, ek en my broer en natuurlik die kleinkinders,” sluit Karen af.
* Sy heengaan word diep betreur en Vaalweekblad wens die gesin sterkte toe.![]()
