Wie gaan saam brei en hekel?
VANDERBIJLPARK. - Die Rotariërklub van Vanderbijlpark het ‘n nuwe projek onder leiding van Jeanette Steyn-Nortjé geloods, genaamd Winter Angels. Hulle wil deur die projek soveel as moontlik mussies (beanies), handskoene, serpe en truie vir kinders tussen die ouderdom van 1 en 12 jaar voor April 2021 insamel.

Gerda Bruinette
Daarom doen hulle ‘n beroep op almal wat kan brei en hekel om nou al te begin en te help om die projek ‘n sukses te maak. Jy kan enige kleur, patroon of tipe wol gebruik.
Brei en hekel is ideale teenvoeters vir stres. Dus, kry jou hekelpen of breinaalde, maak ‘n draai by die naaste wolwinkel en begin! Indien jy nie kan brei of hekel nie, probeer YouTube. Die joernalis kon voor die grendelstaat nie eens ‘n hekelpen vashou nie en nou kan selfs ek al ‘n serp hekel. (Okay, so van ons leer stadiger as ander…)
Daar is gelukkig agt maande om die breipenne te laat klap en bolle wol tot meesterstukke om te tower. Word deel van hierdie projek en help die Rotariërs van Vanderbijlpark om seker te maak die kinders van die Vaaldriehoek is volgende winter knus en warm. Jeanette sê die mense wat goed is met naaldwerk kan ook sweetpakke vir die kinders maak.
Die Rotariërs sal voor die winter van 2021 toeslaan, pakkies opmaak met handskoene, ‘n trui, ‘n serp en ‘n mus om onder behoeftige kinders uit te deel. Indien jy wil wol skenk vir die projek of wanneer jy produkte klaar het, kan jy vir Jeanette by 082 774 9537 skakel.
