Oor roeibote en sjokoladekoek
Het julle al op TV gesien as mense roei? In daardie smal, gepunte bootjies ... ‘n hele span wat ritmies saam beur en dan gly hulle woerts-warts oor die water. Kleintyd het my pa ‘n ‘canoe’ gehad waarmee hy lyne in die dam ingery het. Ma het nog van daai ou klanklose ‘home movies’ wat wys hoe sak daai boot se agterkant tot net bokant die waterlyn, met die neus wat so half uit die water klim as pa sy sit kry.
Gerda Bruinette
Dis vir my mooi as ander mense verstaan van roei. Ek doen nie. Dekades terug, op my 21ste verjaardag was ons almal in Parys (Vrystaat langs die Vaalrivier). Die almal was nou ek, ma, pa, my tannie Kittie, ouma Bessie en Bessie (my niggie, nie om verwar te word met Baba Bessie die pekinees nie.)
Die oggend is ons suikervlakke al goed hoog, want ek en Bessie het middernag al begin koek eet. Ouma het gedink ons is gek, maar ek het gesê ons is albei oor 21, ek sal tjoklitkoek eet in die middel van die nag as ek wil.
Dit was so ‘n helder sonskyndag wat Kittie die blink plan gekry het. Ek en sy gaan roei. Kittie was my ma se oudste suster. Sy was brandmaer want haar gesondheid was nooit na wense nie. Ek, op 21, was goed rond en onfiks. So is ons twee in die bootjie en dryf ons half na die middel van die rivier, terwyl ons ‘n poging tot roei aanwend. Maar dit sukkel. Want my regter- en linkerbrein wou nie saamwerk op die aksie nie. En hoe meer ek probeer, hoe meer draai ons in die rondte.
Pa skree van die kant af dat ek moet roei en ophou pap roer. Dit help nie. Ek raak benoud, want daar sit ons in die middel van die rivier tussen Transvaal en die Vrystaat. (Gauteng het nog nie bestaan nie). En Kittie sien dit gaan nie werk nie. Maar sterk vrou wat sy was, sê sy “ek sal ons hier uitkry” en begin roei. Meer dankbaar vir voet aan wal sit was ek nog nooit in my lewe nie.
Ek dog ek soen die Vrystaatse walle. Dink net nie dit was nodig dat die spul op die wal heeltemal so baie moes lag nie. Van pure skok het ek maar nog ‘n stuk tjoklitkoek gaan eet en sedertdien nog nooit weer probeer roei nie, nie eens in die gym nie!

