Plaaslike ‘bikers’ het saam gebrul in massarit
VANDERBIJLPARK. - Plaaslike motorfietsryers het vroeg Saterdagoggend onder meer by Vaal Mall ontmoet om ‘n geskiedkundige massarit na die Uniegeboue in Pretoria te ondersteun. Antoinette (Wortel) Clayton wat die plaaslike sameroepster was, het gedurende die dag baie foto’s van die geleentheid gedeel en die dag as ’n belewenis bestempel.
Elsje Vermeulen
“Bikers” van regoor die land het die massarit meegemaak om hul teenkanting teen plaasmoorde en rassisme te kenne te gee. Sowat 41 000 motorfietsryers het tydens dié geskiedkundige rit deur die tolhekke beweeg. Die plan vir die oggend was om die massarit van oral in Gauteng aan te pak en tussen 10:00 en 12:00 verby die ingang van die Uniegeboue te ry. Daar is ook wit rose neergelê as deel van hul boodskap aan die regering. Soortgelyke massaritte is ook in ander provinsies gehou.

Dit is oral goed ondersteun en het glad verloop, behalwe in die Kaap waar die polisie die pad versper en aggressief opgetree het. ‘n Motorfietsryer het glo ‘n versperring verontagsaam en is met geweld van sy motorfiets afgeruk. Hy het hom verdedig deur na die polisiebeampte te slaan en sake het handuit geruk. Ander motorfietsryers het tot die motorfietsryer se verdediging ingetree. Donderskote is deur die polisie afgevuur om sake onder beheer te probeer kry en sowat 15 mense is in hegtenis geneem.
* Foto’s van die dag is oral op sosiale media en in die hoofstroom media gedeel. Dit was beslis ‘n dag om op trots te wees, en diegene wat nie self daar kon wees nie, het oral boodskappe van dank en ondersteuning gedeel.



