Local newsNewsNews

Rioolwater borrel en bruis straat-af

VANDERBIJLPARK. - Rioolwater loop sedert 25 Augustus weer vrylik in Shakespearstraat af. Die moeilikheid lê by die munisipale mangat wat in ‘n erf op die hoek van Shakespear- en Fordstraat is. Die water spuit daaruit en mens kan ook hoor dat dit baie sterk in die stormwatersloot in Fordstraat afkom. Dit ruik sleg, dit lyk sleg en soos die motors verbyjaag, spat dit op.

Gerda Bruinette

“Dis nie die eerste keer nie,” sê Ron Hughes in wie se erf die grootste chaos is. “Ons sukkel al sedert 2009 met die mangat wat in die erf is en wat kort-kort verstop is. In die verlede het die rioolwater dan die hele agtererf volgelê en selfs in die huis ingestoot, toe bou ons maar ‘n muurtjie rondom die mangat,” vertel Ron. Nou stroom die vuil water by die erf uit en lê daar vuilgoed op die sypaadjie en tot in die pad. Die water self loop nou al tot vlak voor Hoërskool Vanderbijlpark se eerste hek.

“Die bure dink altyd dit is ons pype of iets wat verstop is. Dit is nie. Hierdie is die hoofdrein wat verstop is. Al die goed wat ophoop van daar bo in Fordstraat af. Die munisipaliteit moet dit gereeld skoonmaak, maar hulle doen nie,” verduidelik Ron en sug moedeloos. Hulle is twee pensioenarisse in die huis en het nie die geld of krag om die munisipaliteit se werk namens hulle te doen nie. Ron sê die weermag het sowat ‘n jaar gelede met ‘n groot trok opgedaag en die drein ordentlik leeggepomp. Daarna was daar nog geen onderhoud weer nie en die resultaat van die laksheid kan enigeen op ‘n afstand sien en ruik. Die mangat moes ook in die eerste plek nooit in die erf gewees het nie, maar pogings om die mangat geskuif te kry, het ook op dowe ore geval.

“Niemand wil mens help nie,” ego Ron baie inwoners in die dorp se frustrasie. Hy het selfs al by die departement van gesondheid probeer hulp kry, maar ook daar is sy boodskappe geïgnoreer.
Intussen stroom die stinkende water die pad af met wie weet watter bakterieë en kieme waardeur kinders skool toe moet loop. Die Shakespear-Fordstraat hoek is ook nie die enigste problematiese een in die omgewing nie. Vaalweekblad het al klagtes ontvang van dreine wat kort-kort verstop is naby Die Anker Skool ook en in Faraday-boulevard tussen die R42 en Pasteur-boulevard is daar ‘n leë erf op linkerhand waar die vuil water nou al vir weke opdam.
Alles net nog ‘n teken van die totale verval van die munisipale strukture in die dorp. Moet daar nou eers ‘n ‘n cholera epidemie uitbreek en mense sterf alvorens iemand aandag aan die dorp se noodkreet gaan gee?

* Vaalweekblad het Maandagmiddag, 31 Augustus verneem dat die munisipaliteit wel die drein op die hoek van Ford- en Shakespearstraat oopgemaak het. Die plasse water was nog steeds teen Donderdag sigbaar.

Die sypaadjies voor die erf. Dit is om van naar te word.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button